Local news

Frik Page van Secunda verloor stryd teen kanker

Geliefdes neem vandag afskeid van ‘doughnut’-man.

Frik Page is op Donderdag, 12 Januarie, aan kanker dood.

Inwoners sal hom onthou as die vriendelike en gesellige man wat gereeld by feeste ’n ‘doughnut’-stalletjie gehad het.

Volgens sy vrou, Maurie Page, het hy vir 16 jaar en drie maande die stryd teen longkanker gevoer.

“Mense sterf gewoonlik binne twee tot vyf jaar aan longkanker,” het sy vrou gesê.

“Dit is genade en ’n wonderwerk dat hy so lank geleef het.

“Hy was die ‘miracle man’ van onkologie.”

Page het haar man beskryf as iemand vir wie niks ooit te veel moeite was nie en ’n mens wat baie liefde vir sy medemens gehad het.

“Niks het vir sy twee hande verkeerd gestaan nie en as iemand hom nodig gehad het, was hy daar,” het Page gesê.

“Hy was die wonderlikste man vir my, die wonderlikste pa vir sy kinders en die wonderlikste oupa vir sy kleinkinders.

“Die leemte wat hy agterlaat is so groot en die verlange is baie.

“Die gemis van sy stem, sy grappies wat hy gemaak het en sy drukkies is groot, maar sy lyding was erg en ons troos ons daaraand dat hy nou nie meer ly nie.”

Page se gedenkdiens vind vandag (Donderdag, 19 Januarie) om 11:00 by die AGS Kerk wat geleë is op die hoek van Aberdeen en Columbiastraat op Evander plaas.

Related Articles

Back to top button