Local newsNews

Donker week op Delmas met twee verdrinkings en ’n plaasmoord

Die bestuurder van die voertuig was binne die voertuig gevind. Hy was op die toneel dood verklaar en het waarskynlik verdrink.

Soek-en-reddingspanne van Middelburg het op verskeie tonele, wat wissel van verdrinking tot ’n gru-plaasmoord in die Delmas-omgewing, bystand gelewer.

Een van ’n groep mans wat glo onwettig met honde gejag het, het met sy lewe daarvan afgekom.

Volgens kaptein Carla Hartley, mediawoordvoerder vir die Delmas Polisie, het ’n groep mans op Sondag, 13 November in die omgewing van die Brakfontein-myn in die Delmas-omgewing met hulle honde gejag. Nadat een van die groep vermis geraak het, het hulle die hulp van die polisie ingeroep.

Duikers van Gauteng het op dieselfde dag na die vermiste man begin soek nadat daar vermoed was dat hy moontlik in ’n spruit kon verdrink het.

Teen Maandag, 14 November het die soek-en-reddingspan van Middelburg oorgeneem en die soektog na die vermiste man voortgesit.

Hartley het bevestig dat die man se liggaam op Dinsdag, 15 November gevind is. Adjudant-offisier André Smit en sy hond, Zeus, het daarin geslaag om die man se liggaam in ’n spruit op die mynperseel uit te wys.

Dieselfde oggend het inligting deurgekom dat ’n voertuig in die Bronkhorstspruitrivier naby die Waaikraal informele nedersetting aan die R42-pad tussen Delmas en Bronkhorstspruit beland het.

Ook hier was die hulp van Smit en sy K9 ontbied. Voor Smit se aankoms op dié toneel, kon die voertuig egter uit die rivier getrek word.

Die bestuurder van die voertuig is binne die voertuig gevind. Hy is op die toneel dood verklaar en het waarskynlik verdrink. Sy passasiers het ongeskonde daarvan afgekom.

Ook op Dinsdag, 15 Oktober het die tragiese moord van ’n bejaarde plaaslike inwoner, Hennie van der Walt (80), die inwoners van Delmas geskok. Van der Walt en sy lewensmaat, Hester Small (79), is in hul huis op die plaas Dwarsfontein in die Delmas-omgewing oorval.

Van der Walt is grusaam vermoor. Nadat werkers alarm gemaak het, is hy deur bure gevind met verskeie mes- en skietwonde aan sy maag. Small wat aan Alzheimer lei, was ongedeerd, hoewel glo erg geskok en deurmekaar.

Verskeie drade in die omgewing van die huis is geknip. Dit is nog nie duidelik hoe die aanvallers toegang tot die huis verkry het nie. Twee van die slaapkamers se vensters is gebreek. Die huis se inhoud was omgekeer, vuurwapens, ’n selfoon en tablet gebuit en die veiligheidskameras se opname het saam met die verdagtes verdwyn.

Met Smit nog in die omgewing, is sy hulp na die moordtoneel ingeroep. Hy (Smit) en sy K9-lid kon daarin slaag om die vermiste wapenkluis, ’n hamer asook ook ’n leer geweerband, nie ver van die moordtoneel, in ’n bos op te spoor.

Dit was egter oopgebreek en die inhoud was weg. Teen druktyd was daar nog geen inhegtenisname in verband met Van der Walt se moord gemaak nie. Die ondersoek duur voort.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button