Local newsNewsStreeknuus

Bronkhorstspruit is gasheer vir rokerskompetisie

Brokhorstspruit speel gasheer vir n vleis rokers kompetisie.

Die ’Smoking Meats” vleisrokerskompetisie het op 12 November op Bronkhorstspruit plaasgevind.

’n Groep vleisrokers onder leiding van George Botha, ’n sakeman van Kemptonpark, en Jacques Engelbrecht van ’n sous- en speserye-onderneming, is die breins agter die geleentheid. Hulle wil BBQ Smoking in Suid-Afrika op die kaart plaas.

“Wat begin het as ’n rein gedagte een aand by ’n plaaslike restaurant, het in ’n geleentheid ontaard waarheen die dorpsmense jaar na jaar sal terugkom,” het Engelbrecht gesê.

Die konsep is eenvoudig.

“Suid-Afrika is ’n vleis-nasie, ons braai en kuier om die vure, almal hou van gerookte vleis, so kom ons kombineer die rook van vleis met ons liefde vir samesyn,” het Engelbrecht gesê.

Die dag het ’n rookkompetisie ingesluit, asook optredes deur musiekmakers soos Hoot ’n Anny, Boet Faber en Piet Vermaak.

Verskeie ondernemings het stalletjies opgerig en daar was ook ’n worseet-kompetisie met beoordelaars wat bekendes ingesluit het soos Nastassja Ras van Houvrou/Trouvrou-faam en Adele Fouché van Saarkie.

“Ons wou graag vir die dorp iets aanbied. Ná Covid-19 en die winter het ons gevoel almal verdien om uit te kom, iets nuuts te ervaar en ’n goeie dag te hê saam met ander dorpsmense en om nuwe vriende te maak,” het Engelbrecht verduidelik.

“Ons wil hê dat dié soort geleenthede gemeenskappe bymekaar bring en die sport van vleisrook bevorder, nuwe bloed inwin en groei sodat ons later teen ander lande kan deelneem en wys wat Suid-Afrikaners kan doen,” het Engelbrecht vertel.


LEES OOK: Bronkhorstspruit at risk of being taken over by water hyacinths


Deelnemers het drie kategorieë gehad om van te kies, naamlik hoender, varkribbetjies of beesrib, elk met hulle eie vereistes, gaarmaaktye en tegnieke.

Die meeste deelnemers het gekies om die lollipop-metode te gebruik vir die hoenderboudjies en om soet varkribbetjies voor te sit, terwyl die beesribbetjies meer sout en tradisioneel was.

Die beoordelaars het ’n harde tyd gehad om elke stuk korrek na te gaan en punte te gee vir aanbieding, tekstuur en smaak.

Die reëls is uiters streng en die internasionale KCBS-reëls geld.

“Ons gebruik die reëls om die standaard nie net hoog te hou nie, maar ook om in dieselfde klas as internasionale rolspelers te beweeg,” het Engelbrecht vertel.

Die span van Human Spirits was die algehele wenners, met Old School in die tweede plek en die nuwelinge Smoking Jane in die derde plek. Pryse is ook aan die kategorie-wenners en naaswenners. Weens die dag se sukses, wil die organiseerders Bronkhorstspruit by hul kalender insluit.

Ander plekke waar soortgelyke kompetisies jaarliks gehou word, sluit in Pretoria, Johannesburg, Kemptonpark, Parys en Stellenbosch.

Gesamentlik is die span rokers genooi na Meatstock wat jaarliks in Australië gehou word en meer as 10 000 mense vanuit internasionale oorde lok.

Enige iemand wat belangstel om deel te word van die rokers kan ’n epos aan Jacques Engebrecht stuur by info@smokeandgrind.co.za


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button