Local newsNews

Ontevrede ouers toi-toi voor Laerskool Delmas

Met ontevrede betogers buite die hek van die skool was veiligheidsmaatreëls binne die skoolterrein en rondom die ingange van die skool geplaas.

’n Groep van sowat 30 ontevrede ouers het by meer as een geleentheid voor die hoofingang van Laerskool Delmas hul griewe gelug.

Die ontevredenheid handel oor die plasing, of gebrek aan plasing van onder meer gr.1-leerders vir 2023.

Volgens die betogende ouers het hulle aansoek vir hul kinders se toelating by die laerskool gedoen, maar is die skool egter vol en geen verdere plasings word gemaak nie.

Nog ’n grief wat uitgelug is, is dat Heidi Kleuterskool se gr. R-leerders glo voorkeur kry wanneer dit by toelating kom.

Soos berig is in Streeknuus (26 Augustus) is nuwe wetgewing in April deurgevoer waarby die vroeë kinderontwikkelingsentrums (VKO), wat onder die vleuel van die Departement van maatskaplike Ontwikkeling gestaan het, in geheel deur die Departement van Basiese Onderwys oorgeneem is.

Dit het ’n paar belangrike skuiwe in die voorskoolse bedryf tot gevolg gehad, onder meer het gepubliseerde wetgewing vereis dat alle laerskole se grondslagfase voortaan ook gr. R moet insluit.


LEES OOK: Concrete slabs in Florapark, Standerton, pose a danger


Heidi se gr. R-leerders is reeds op die skoolterrein gevestig en daarom het die departement besluit dat Heidi se gr. R’e vanaf 1 Januarie 2023 volledig by Laerskool Delmas sal inskakel.

Daar was ’n toi-toi en dreunsangsessie op Woensdag, 2 November voor Laerskool Delmas se hoofingang waartydens die ontevrede groep op antwoorde rondom toelatingskwessies aangedring het.

‘n Formele vergadering is op 3 November met verteenwoordigers van die groep ontevrede ouers, die onderwysdepartement, Laerskool Delmas en verteenwoordigers van die beheerliggaam van die skool gehou.

Met ontevrede betogers buite die hek van die skool is veiligheidsmaatreëls binne die skoolterrein en rondom die ingange van die skool geplaas.

Die Delmas Polisie en lede van die openbare orde-polisie van Mpumalanga, alom bekend as POP, was ook op die toneel om te verseker dat Laerskool Delmas, sy leerders en onderwysers veilig met hul dag se taak kon voortgaan.

Die privaat veiligheidsmaatskappy Forum Sekuriteit was teenwoordig om die situasie te monitor en die veiligheid in en om die skoolterrein te verseker.


LEES OOK: 24/7 Toll Free Help Line Counselling for 2022 learners during exams


“Forum Sekuriteit is om bystand genader en het ons plig uitgevoer deur suksesvolle batebeskerming by Laerskool Delmas toe te pas,” het Nic Arnold, die uitvoerende direkteur van Forum Sekuriteit, vir Streeknuus meegedeel.

“Dankie aan al die betrokke AfriForum Buurtwaglede wat in dié tyd in die omliggende omgewing bystand gelewer het.”

Die vergadering het vreedsaam verloop waarna die groep toegespreek is en rustig uitmekaar gegaan het.

Volgens ’n lid van die skool se beheerliggaam, Marius van Staden, het die betrokke partye ’n in-diepte vergadering oor die huidige toelatingkwessie gehad.

“Ons gaan voort om met die Departement van Onderwys oor die aangeleentheid te onderhandel en sal op ’n later stadium meer breedvoerig hieroor terugvoer kan gee,” het Van Staden gesê.

Streeknuus kon teen druktyd nie daarin slaag om met ’n woordvoerder vir die groep ontevrede ouers, wat hulleself die Concerned Parents Organisation noem, in aanraking te kom nie.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button