Local newsNews

Massiewe vrag eiers is veilig na kaping buite Delmas gefnuik is

Die vragmotorbestuurder en sy assistent is met skoenveters vasgebind en langs die pad gelos terwyl die kapers met die vragmotor en eiers spore gemaak het.

Twee verdagtes, onderskeidelik 37 en 45 jaar oud, is op die R50, rigting Bapsfontein, net buite Delmas in hegtenis geneem.

Die inhegtenisname volg ná ’n Rossgro-vragmotor gelaai met 117 540 eiers ter waarde van R137 000 op 6 Oktober in Die Laan op Eloff gekaap is.

Die waarde van die vragmotor is sowat R1.7 miljoen. Die kaping het omstreeks 13:31 plaasgevind.

Volgens die woordvoerder van die Mpumalanga Polisie, brigadier Selvy Mohlala, was die vragmotor met die vrag eiers na Eloff op pad.

Die vragmotor het glo vroeër die dag op die plaas reeds meganiese probleme ondervind wat later deur ’n werktuigkundige opgelos is.


LEES OOK: Bronkies SAPS’ dedication assures justice


Etlike kilometers van hul eindbestemming het die bestuurder en sy assistent glo ’n harde klapgeluid gehoor en besluit om stil te hou en ondersoek in te stel.

Hulle het eers vermoed dat ’n band dalk gebars het. Die twee werkers is deur ’n silwerkleurige Polo genader.

Van die kapers in die Polo het die vragmotorbestuurder en sy assistent in die Polo gedwing terwyl hul makkers doodluiters met die vragmotor met sy vrag eiers weggery het.

Die maatskappy se werktuigkundige het egter agterdogtig geraak toe hy gesien het hoe die vragmotor verby die afleweringsasdres ry.

Hy het die eienaar gekontak en hom hiervan in kennis gestel. Die maatskappy se voertuigmoniteringstelsel het bevestig dat die vragmotor van sy roete afgewyk het.


LEES OOK: ’n Bestiering dat familie nie tuis is toe huis op Standerton brand


Die vragmotor is deur ander werkers van die maatskappy agternagesit.

Hulle het probeer om vragmotor tot stilstand te dwing, maar die vragmotor het versnel en het op ’n stadium die bakkie verbygegaan.

Daar is vir bystand gevra. Tydens die tweede poging om die vragmotor tot stilstand te bring, het dit skielik gestop en twee verdagtes het die veld in gevlug.

Danksy ’n span, bestaande uit polisielede, lede van ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy en werknemers van Rossgro, is die twee verdagte kapers aangekeer.

Die polisie het die vragmotor deursoek en beslag gelê op ’n sak vol gereedskap.


LEES OOK: Michelle shows off designer gown at Hoërskool Erasmus’ matric farewell


Die verdagtes was glo reeds besig om na die opsporingstelsel in die vragmotor te soek en daar is ook reeds skade aan die paneelbord van die voertuig aangerig.

Volgens Mohlala, is die bestuurder en sy assistent ongedeerd op ’n nabygeleë grondpad gevind. Hulle was met skoenveters vasgebind.

Luitenant-generaal Semakaleng Daphney Manamela, die Mpumalanga-kommissaris van polisie, het intussen die suksesvolle samewerking en inhegtenisname van die twee verdagtes verwelkom.

Dié Mosambiekers het op Maandag, 10 Oktober in die Delmas Landdroshof op aanklagte van die oortreding van die immigrasiewet en poging tot kaping, verskyn.

“Dit is moontlik dat die twee verdagtes met ander misdade verbind kan word. Die ondersoek duur voort.”


Related Articles

Back to top button