Local newsNews

Alna Kapp van Standerton is voorbereid vir nuwe uitdaging

Alna Kapp glo aan ordelike vergaderings en geldsake moet deursigtig wees.

Die nuwe president van die Vroue Landbou-unie (VLU) in Mpumalanga, Alna Kapp, is opgewonde oor die jaar wat voorlê.

Sy het die mite dat die VLU slegs oor brei en hekel gaan, hokgeslaan. Die VLU is deel van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue, wat by die Verenigde Nasies geaffilieer is.

Alna het hul vorige konferensie as afgevaardigde van Mpumalanga in Australië bygewoon waar tussen 700 en 800 vroue teenwoordig was.

“Dit maak jou oë oop vir wêreldwye probleme,” het sy gesê.

“Suid-Afrika het daar ’n platform.”

Dié organisasie se doel is om verligting aan mense in nood te bring, met die VLU wat jaarliks ’n beskrywingspunt by die konferensie voorlê.

As dit geslaagd is, word die wiel aan die rol gesit en dit verder geneem. Sanitasie en riolering in landelike gebiede is tans die onderwerp.

Alna se 32 jaar ondervinding as lid van die VLU sal nou aangewend word om leiding in die provinsie te neem.

“Dit is ’n geweldige uitdaging waarvan ek ten volle bewus is. Ek het egter die vrymoedigheid om na my voorgangers te gaan en leiding te vra. Ek is dankbaar vir almal wat spore gelaat het.”


LEES OOK: Florentia Moloi from Secunda wants to work with young people


’n Gerusstelling is die sterk, uitvoerende bestuurslede. Haar fokuspunt sal groei by die VLU wees omdat die ledetal algaande krimp.

Mpumalanga staan tans op 745 lede waar dit sowat sewe jaar gelede op 1 300 te staan gekom het.

Die pandemie het ’n rol gespeel met vroue wat aan die dood afgestaan is, eggenotes wat oorlede is, wat lewensomstandighede in sekere gevalle beïnvloed het.

Alna is van mening dat jong ma’s uit die VLU verdwyn as hulle kinders begin skoolgaan en dit is eers as die nes verlaat word, dat hulle terugkeer.

“Die VLU hef vroue op deur hulle aan verskillende onderwerpe bloot te stel.”

Sosiale media moet voorts nie onderskat word nie, wat ’n leemte van inligting oor werksaamhede kan laat as dit nie gebruik word nie. Sy is tradisievas as dit kom by die oordra van tegniese vaardighede van geslag tot geslag.

“Dit moet by jong vroue aangespreek word anders sal die situasie hom oor 20 jaar voordoen dat die goed in jou huis die ‘Made in China’-etiket dra.”

Alna het vertel dat die potensiaal van vroue se handewerk by provinsiale geleenthede besef word. Beoordeling voorts is nie om foute uit te wys nie, maar om ’n standaard daar te stel.

Sy glo aan ordelike vergaderings en geldsake moet deursigtig wees. Beskrywingspunte volg ‘n streng prosedure vanaf tak-, streek-, nasionale en internasionale vlak.

Ook sal sy nie die moeite ontsien om breiwerk of geborduurde lappie se stekies uit te trek as dit nie perfek is nie. Die nuwe president se dagboek raak reeds voller en sy is beslis voorbereid op die taak wat wag.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button