Local newsNews

Ria Brink van Standerton besweer die ouderdom met gemak

As dit van haar afhang, sal sy op groente en vrugte van die vrugtebome in die tuin kan oorleef.

Ria Brink van Standerton maak korte mette van die ouderdom en is in haar tagtigs nog volstoom aan die gang.

Dié afgetrede hoof van Haas Das Kleuterskool is deurgaans bedrywig by Kalie Klitsies se gr. RRRe, RRe en Re en ruim ook tyd in by die Wise Owl-kleuterskool om haar kennis oor te dra.

Ria se studiejare in B.Ed het by die voormalige Potchefstroom Universiteit afgespeel, waar sy ook haar aptekerman, Koos ontmoet het.

Hulle is op Randfontein getroud en het 28 jaar op Evander gewoon. Tinki Tonki Kleuterskool op Evander se woelwaters is onderrig, terwyl Koos sy eie apteek bedryf het.

Die familie moes die pyn van afsterwe van geliefdes leer verwerk en die Brinks was by Koos se afsterwe, 59 jaar getroud.


 LEES OOK: Mariki 2022 Kuier en Koop Lekkerte skop af op Secunda


Drie dogters, Carina, Louisa en Ria, haar naamgenoot, asook haar seun Ryk, is uit die huwelik gebore.

Carina se eerste man William Zwart voormalige koerantredakteur, het haar ontval en die gesin het ook ’n 25-jarige seun aan die dood afgestaan.

Louisa is met ’n Namibiese boer getroud en hulle woon in die Kalahari, terwyl Ria, wie se man ook oorlede is, ’n fisioterapeut by die Mediclinic Highveld op Trichardt is.

Oumagrootjie Ria het nege kleinkinders en drie agterkleinkinders.

“Ek sê altyd vir my kinders dat daar nie ’n dag mag verbygaan waar ek nie iets nuuts geleer het nie,” aldus Ria.

Sy behartig ook die musiekafrigting by die kleuterskole en slagorkeste is haar forte.

“Ek het my klaviereindeksamen deur Unisa afgelê en oefen soms in die nag.”

Ria het vroeër vanjaar die voorsitterskap van die VLU se Vaalrivier-tak oorgeneem en spog met ’n 55-jaar-lidmaatskapknopie van die organisasie.

“Alles wat ek by die VLU doen, is vir my lekker.”

Sy is in 2019 as die VLU se Hoëveldvrou van die Jaar aangewys, wat getuig dat sy geen groentjie is as dit by kompetisie-inskrywings kom nie. Die aankondiging het haar ietwat onkant betrap.

“Ek kon my ore nie glo nie.”

Ria het na Koos se dood die woonwa moes verkoop waarmee hulle die land platgereis het. Met haar gesondheid gaan dit voor die wind.

Sy probeer wel gesond eet en die groentetuin met van sy spinasie, beet, slaaiblare, aarbeie, kool en kruie en wat nog alles, sorg vir ’n voedsame dieet.

As dit van haar afhang, sal sy op groente en vrugte van die vrugtebome in die tuin kan oorleef.

Ria het deur die jare die groot verantwoordelikheid op haar skouers gedra om die opvoeding van kindertjies, op skoolvlak, te behartig.


 LEES OOK: Rayton-sensei en goue medaljewenner deel haar karate-passie


Eintlik wil sy haar bakkie verkoop, maar vier splinternuwe bande verhoed haar en ook die kinders wat wal gooi.

Tippie die labrador, self nie meer vandag se kind nie, pas steeds sy ounooi op.

Koos was altyd die een wat die dinge in die huis herstel en dit as ’n uitdaging gesien het, maar nou maak Ria die planne.

Dié familievaste vrou het geen geheim, doepa of towerkuur vir ’n lang lewe nie, hoewel sy slaggereed was met ’n antwoord:

“Elke dag is net genade.”


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button