Local sportStreeknuus

Rayton-sensei en goue medaljewenner deel haar karate-passie

“Karate is ’n fantastiese sport, ’n individuele sport waar elkeen teen sy of haar pas kan groei.”

Sy en haar neef het van ’n jong ouderdom na Jean-Claude van Damme se gevegskuns-films gekyk.

Dit is Debbie Schoombee, goue medaljehouer en inwoner van Rayton.

Volgens die 45-jarige Schoombee, was sy maar ’n regte rabbedoe, geld in haar grootwordjare was skaars en sy kon daarom nie aan karate deelneem nie.

“Dit het egter nie my en my neef se verbeelding gekniehalter nie en ons het aanhou droom,” het Schoombee gesê.

Schoombee het op 18-jarige ouderdom begin werk en kon sy vir karateklasse betaal.

Sy het by sensei Kobus en Michelle Prinsloo op Middelburg ingeskakel en begin oefen.

“Hier het ek tot by my vierde Dan gevorder waarna ek na Pretoria verhuis het. Ouerskap en die verantwoordelikhede wat daarby gepaardgaan, het my vir die volgende nege jaar besig gehou en ek moes karate vir eers op die agtergrond skuif.”

Schoombee se tweeling het op vyfjarige ouderdom begin om karate te beoefen en sy het so tussendeur saam met hulle geoefen.

Met harde oefening en baie deursettingsvermoë, het Schoombee haar Noord-Transvaalkleure vir ses agtereenvolgende jare verwerf.

Wêreldkampioen in kobudo, sensei Debbie Schoombee met haar goue medalje.

Finansies het haar egter van internasionale deelname weerhou.

Gedurende 2013 was Schoombee onoorwonne in Suid-Afrika in haar ouderdomsgroep in die SAKSA-styl.

“In 2018 het ons by Shotokan ZA aangesluit waar ek ’n vierde plek behaal het en onoorwonne as veteraan-vrou (41-45) in kata en kobudo geëindig het.”

“Dit was in hierdie jaar dat ek bevoorreg was om gekies te word om Suid-Afrika by die 10de WUKF Karate Wêreldkampioenskap in Fort Lauderdale in Amerika te verteenwoordig.”

Dié kompetisie het vanaf 2 tot 7 Julie plaasgevind.

Hier het sy ’n algehele sewende plek in die veterane vroue-afdeling vir individuele kata behaal.

In kobudo (tradisionele wapens) het Schoombee skoonskip gemaak en het sy met ’n goue medalje vir Suid-Afrika van die mat afgeklim.

Volgens Schoombee, het sy na afloop van dié oorwinning ook haar internasionale eksamen by die WUKF se beoordelaarsraad afgelê en is nou gekwalifiseer as ’n B-beoordelaar.

Hier neem Sensei Debbie Schoeman haar sertifikaat as B-beoordelaar in ontvangs.

“Ek het selfs tydens my besoek daar op die mat as beoordelaar geklim. Dit is ’n reuse voorreg, want die kwalifikasie beteken dat ek nou wêreldwyd as beoordelaar kan optree.”

Schoombee gee egter van haar oorwinning aan die gemeenskap terug.

Sy rig karate in Rayton se gemeenskapsaal af.

“Karate is ’n fantastiese sport, ’n individuele sport waar elkeen teen sy of haar eie pas kan groei. Ons is ’n familie wat uitkyk vir mekaar. Die sport het ’n plek vir elkeen.”

Schoombee het verder gesê dat die sport vanaf vierjarige ouderdom beoefen kan word en dat ’n persoon nooit te oud is om te begin nie.

“Karate is ook uitstekend vir kinders met ADHD of enige ander leer- of fisieke probleme. Selfs mense in rolstoele, gehoor-en gesiggestremdes kan daarby baat.

“Ons het selfs ’n Downsindroom-afdeling.”

“Karate is my passie, ’n leefwyse en ’n plek waar elkeen kan voel dat hy of sy ‘behoort’,” het Schoombee afgesluit.

Related Articles

Back to top button