Feesgangers maak seker om Val Boeredag naby Standerton by te woon
Die aantal voertuie wat in die parkeergebied gestaan het, het ’n aanduiding gegee van die belangstelling in die Val Boeredag.
Die groot boeresamekoms wat sedert 2018 nie aangebied kon word nie, het op Woensdag 6 Julie op Val plaasgevind.
Die aantal voertuie wat in die parkeergebied gestaan het, het ‘n aanduiding gegee van die belangstelling in die Val Boeredag.
Verskeie uitstallers en ondernemings het die geleentheid benut om hul produkte ten toon te stel.
Die Kosmos Aftree-oord het eetgoed en drinkgoed as ‘ֹn geldinsamelingsinisiatief verkoop, waar besoekers met moeë voete op die houtbankies kon asem skep.
Nie dat dit die enigste plek was waar die innerlike versterk kon word nie.
Die gemeenskap het fluks sake gedoen met die verkoop van onder meer boereworsrolletjies, hamburgers, ‘donuts’ en koeldrank.
‘n Spreker het aan die vroue ‘n sterk motiverings- en geloofsboodskap in die groot tent gelewer.
Die kleingoed was kort-kort in treintjies op die terrein vervoer met moeders wat by allerlei stalletjies kon inloer.
Die demonstrasies van plaasimplemente het groot aftrek gekry en die dag is gekenmerk deur ou vriende en kennisse wat mekaar weer raakgeloop het.
Boere kon met kundiges in die landbouwêreld op informele wyse kommunikeer en ‘n span van TLU het ook ‘n tent beman.
‘n Ontspanne gees het te midde van groot sakebesluite geheers.
Die geleentheid is oudergewoonte met vermaak afgesluit.
Brett Gordon, voorsitter van die Waterval Boerevereniging, het op Donderdag 7 Julie die dag as ‘n sukses beskryf.
“Ons is baie tevrede en dank verskuldig teenoor die uitstallers en demonstrasies, asook feesgangers wat by ons kom draai het,” het Brett gesê.