Local newsNewsStreeknuus

Polisiekapteins van Delmas en Sundra bots teen vragmotor

Die vragmotor sonder ligte het boonop van die toneel weggery asof niks gebeur het nie en die twee polisiekapteins aan hul eie lot oorgelaat.

Twee polisiekapteins van die omgewing was onlangs in ’n ongeluk op die Bronkhorstspruit / Delmas-pad betrokke.

Kapt. Salomé van der Westhuizen van die Delmas Polisie, sowel as die bevelvoerder van die Sundra Polisie, kapt. Linky Olckers, was die slagoffers van ’n vragmotor wat glo sonder agterligte gery het.

Die twee kapteins was op Dinsdag, 5 Julie vanaf Kwamhlanga na Delmas op die R42 onderweg.

“Ek het vreemde ‘rook’ voor in die pad opgemerk en die polisie-bakkie se ligte op domp gesit.

“Reg voor my was ’n vragmotor. Dit was heeltemal te laat, ek het probeer uitswaai, maar ons het trompop teen die agterkant van die vragmotor gebots,” het kapt. Van der Westhuizen gesê.

Die ongeluk het in die omgewing van Bonamanzi gebeur.

Die impak was van so ’n aard dat beide die polisiebakkie se lugsakke geaktiveer het.

Die bakkie het glo omgeval waarna albei die kapteins uit die bakkie gekruip het.

Kapt. Van der Westhuizen was tydens Streeknuus se besoek aan haar nog duidelik effe deurmekaar en pimpel en pers gekneus.

Behalwe vir die kneusplekke, het sy skynbaar slegs ’n skouerbesering opgedoen.

Twee polsiekapteins het met geringe beserings uit dié bakkie geklim ná hulle teen ’n vragmotor gebots het. Foto: Verskaf

Wonder bo wonder het ook kapt. Olckers slegs geringe beserings opgedoen.

“Ek is mos een van Liewe Jesus se witbroodjies. Ek het niks oorgekom nie, net so ’n bietjie ’n stywe nek,” het kapt.Olckers Streeknuus meegedeel.

Volgens kapt. Van der Westhuizen is die bakkie egter ’n wrak.

“Behalwe vir die agterruit, is al die ruite van die bakkie gebreek. Ek het na die tyd selfs stukkies glas binne-in my polisieskoene gekry.”

Selfs polisielede wat in ’n ongeluk betrokke is, kan blykbaar nie die kriminele elemente vermy nie.

Kapt Van der Westhuizen se selfoon is onder andere op die toneel uit die wrak gesteel.

Die vragmotor sonder ligte het boonop van die toneel weggery asof niks gebeur het nie en die twee polisiekapteins aan hul eie lot oorgelaat.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button