Bronkies se rugbymanne het Saterdag, 11 Junie teen die Buffalos Rugbyklub van Pretoria op Bronkies se tuisveld in ’n ligawedstryd kragte gemeet.
Bronkies was in totale beheer van altwee wedstryde en die tweedespan het met 64-10 koning gekraai. Die tweedes het 10 drieë gedruk en was met sewe doelskoppe suksesvol.
Die eerstespan het ook met 50-3 geseëvier. Die eerstes het in die proses agt drieë gedruk en was met vyf doelskoppe in die kol.
Albei wedstryde was eensydig soos die tellings aandui.
“Daar moet bygesê word dat Bronkies ook tans goeie rugby speel hoewel daar nog baie ruimte vir verbetering is,” het voorsitter Lourens du Plessis laat hoor.
Albei spanne is tans tweede op die ligaranglys.
Die tweedespan se man van wedstryd was Biggy Mazibuko en vir die eerstespan is Jacques Dumas gekroon as man van die wedstryd.
Bronkies se volgende ligawedstryd is teen Eersterus van Pretoria eerskomende Saterdag en word op Eersterus se veld beslis.