Local sportSportStreeknuus

Delmas Rugbyklub staan met mening uit die as op

Die Delmas Rugbyklub het hul egter nie laat onderkry nie en ten spyte daarvan dat die klub nie meer bruikbaar was nie en die pandemie boonop ook nog voor hul deur kom lê het, het die rugbymanne weer uit die as opgestaan.

Delmas Rugbyklub het op Saterdag 4 Junie teen Tsakane Rugbyklub gespeel.

Tydens die ligawedstryd kon Delmas daarin slaag om Tsakane oortuigend met 41-26 te klop. Die wedstryd het op die tuisveld van Hoërskool Delmas plaasgevind. Soos van ouds was die atmosfeer aanvoelbaar en aansteeklik.

“Dit was ’n lekker en ’n skoon wedstryd. Die bal het mooi geloop,” het die afrigter, Jandré Senekal, laat hoor.

Dit was met hartseer dat die rugbyspelers en -liefhebbers van Delmas op 25 Julie 2019 toegekyk het hoedat die klubgebou tydens ’n brand gedeeltelik in puin gelê is.

Delmas Rugbyklub het toe nog geglo dat die gebou weer herstel sou word, maar dit het gou geblyk dat die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit aan wie die gebou en perseel behoort, geen erg daaraan gehad het om die gebou te herstel nie.

Die klubhuis is intussen ook deur vandale en boosdoeners gestroop en slegs ’n geraamte van die ou klubhuis is vandag nog staande.

Die rugbyklub het hul egter nie laat onderkry nie en ten spyte daarvan dat die klub nie meer bruikbaar was nie en die pandemie boonop ook nog voor hul deur kom lê het, het die rugbymanne weer uit die as opgestaan.

Volgens Senekal werk die manne hard om Delmas-rugby weer in sy volle glorie te herstel.

“Ek en Werner Venter rig tans af en saam met Jaco Els, Alex de Klerk én ons spelers staan ons saam om die opkomende klub weer op sy voete te bring en tot sy vorige glorie te herstel,” het Senekal ook gesê.

Senekal nooi alle belangstellende spelers, jonk en oud, om weer by die klub aan te sluit. Senekal kan by 094 411 7599 geskakel word en Venter by 082 956 3821.

Die volgende wedstryd vind weer op die tuisveld van Hoërskool Delmas op Saterdag, 11 Junie omstreeks16:00 plaas. Die span van Delmas draf dan teen Thembisa uit.

“Kom ondersteun ons asseblief,” het Senekal gevra.

’n Doelgerigte Chris Janse van Rensburg na die doellyn op pad. (Foto: Alicia Senekal)
Rugby-aksie tussen Delmas en Tsakane op die veld van Hoërskool Delmas. (Foto: Alicia Senekal)
Hier druk Chris Janse van Rensburg van Delmas ‘n drie. (Foto: Alicia Senekal)
Spelers van Delmas Rugbyklub en Tsakane Rugbyklub sak in die skrum. (Foto: Alicia Senekal)

Related Articles

Back to top button