Local newsNewsStreeknuus

Delmas-lisensiekantoor moet diens opskerp

Ek het my beurt geduldig afgewag net om later te hoor dat die tien vorms vir die dag reeds uitgedeel was en ek maar weer moes terugkom. Indien jy ’n vraag daaromtrent probeer vra, word jy summier afgejak en ek moes keer op keer stert tussen die bene terugkeer huis toe.

Tot en met drie weke gelede was daar slegs 10 vorms vir die hernuwing van bestuurderslisensies per dag op Delmas uitgereik.

Dit is volgens raadslid Diane Bath van die Demokratiese Alliansie (DA) van die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM).

“Daar was ongelooflik baie klagtes ontvang en daar is baie uitdagings rondom swak dienslewering by die Delmas-lisensiekantoor.”

“Ek was vir ’n paar oggende reeds om 07:30 by die lisensiekantoor. Omstreeks 08:20 daag sommige van die werkers al laggende en geselsende by die kantoor op.

“Ek het my beurt geduldig afgewag net om later te hoor dat die 10 vorms vir die dag reeds uitgedeel is en ek maar weer moes terugkom.

“As jy ’n vraag daaromtrent probeer vra, word jy summier afgejak en ek moes keer op keer stert tussen die bene terugkeer huis toe. Ongeholpe natuurlik.

“Daar is ook ’n datumstempel op die vorm geplaas en jy mag nie die volgende dag met daardie vorm teruggekeer het nie,” het ’n inwoner van Delmas Streeknuus meegedeel.

Volgens Bath, het sy die saak met die hoof van die verkeersafdeling opgeneem.

“Ek was daarvan verseker dat daar nie net meer 10 vorms per dag uitgedeel sou word nie. Niemand sou ook meer toegelaat word om voor in die ry in te druk nie. Daar was boonop versekering gegee dat die werknemers se houding teenoor die publiek verbeter.”

Volgens ’n inwoner van Eloff, was sy ook een oggend net na 07:00 by die lisensiekantoor.

“Ek was tweede in die ry, gewapen met al die nodige dokumente en selfs my eie pen.

“Dit was vir my verbasend om te sien hoe sekere ander mense net verbygestap het en deurgeneem is na die kamer waar jou oë getoets word. Ek verstaan nie wat hulle dan anders gedoen het nie.”

Volgens die Eloff-inwoner, het sy teen 09:10 uiteindelik by die oogtoets-prosedure verbygekom.

“Dit was egter waar die hel begin het. By die kantoor van die kassiere is ons verskreeu, van bakboord na stuurboord gestuur. Ek was later ’n bol senuwees. Ons (almal wat daar in die rye gestaan het) is later meegedeel dat die kassiere nie op haar pos was nie. Sy was glo nog nie ‘in’’ nie en ons moes wag.

“Die vrou het ten einde laaste opgedaag, ek het nou nie meer na tyd gekyk nie. My net reg gemaak om die res van die dag daar te bestee.”

Volgens die kliënt was dit weer eens opsigtelik dat sommige kliënte net ingestap het, skynbaar betaal het en weer uitgestap het.

Volgens haar, was die vrou uiters ongeskik en het sy van die mense ’n paar keer na ander en weer terug agter in rye beveel.

“Teen vroegmiddag was my vingerafdrukke geneem en het ek met my tydelike bestuurderslisensie by die hekke uitgestap.”

Volgens die kliënt, wat verkies om anoniem te bly, het sy die mense wat nog moes hernu bitter jammer gekry.

“Een ding was egter duidelik; jy word op grond van ras en geslag baie goed of baie sleg behandel.”

Bath het bevestig dat die 10 vorms per dag nou iets van die verlede sou wees en dat daar ’n glo ook ’n verandering jeens die publiek in die werkers se houding sou wees.

Geen persoon sou glo ook meer toegelaat word in te druk nie.

Die werkers moes glo ook voortaan reeds vanaf 07:30 of 08:00 op hul poste wees.

Volgens Bath, sou daar ook kontrole besoeke deur haarself en die hoof van die departement uitgevoer word om sodoende die vordering in dienslewering te monitor.

Bath het gevra dat mense wat nog probleme ondervind en slegte ondervindinge het, dit aan haar moet rapporteer per e.pos op dianeb@coltech.co.za.

“Kom ons glo dat daar ’n verbetering sal wees.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button