NewsSchoolsStreeknuus

Heidi Kleuterskool op Delmas se kleingoed is kleurvol by atletiekdag

Die atmosfeer op Laerskool Delmas se sportvelde met laggende kleutergesiggies en jillende ouers was aansteeklik.

Op ’n sonnige dag net voor die aanbreek van Paasnaweek kon Heidi Kleuterskool in Delmas weer kleuteratletiek aanbied.

Dit het vir groot opgewondenheid onder kleuters, onderwysers, ouers en grootouers gesorg.

Weens die Covid-19 inperking en gepaardgaande regulasie kon hierdie immergewilde gebeurtenis vir die laaste keer in 2019 gehou word. Op Donderdag, 14 April was die atmosfeer op Laerskool Delmas se sportvelde aansteeklik met laggende kleutergesiggies en jillende ouers.

Heerlike vetkoek en pannekoeke was op die spyskaart.

“Ons atletiekdag was reeds op die agenda geplaas vir 2020, maar etlike dae voor ons dit sou aanbied, het die aankondiging gekom dat skole sou sluit. Daarom was hierdie dag vir ons ekstra spesiaal en het ons met groot opgewondenheid daarna uitgesien,” het Riëtte Wheller, hoof van Heidi Kleuterskool gesê.

Daar was ’n hele paar items op die program en elke kleinding het dit gate uit geniet. Van die hindernisbaan, sakresies, ‘playball’, motorfietsieresies, gewigstoot en hardloop was van die items waaraan die kleuters, peuters en selfs babas kon deelneem.

Na afloop van die sportitems, was dit tyd vir die groot fees, naamlik die kleurfees. Hiervoor was sakkies met gekleurde poeier beskikbaar. Daar is tot 10 getel – die sakkies is oopgemaak en eensklaps het die sportveld van Laerskool Delmas in ’n reënboog verander.

Oud en jonk was van kop tot tone ‘ingekleur’. So het 2022 se kleuteratletiekdag tot ’n einde gekom en die Paasnaweek het aangebreek.

Heidi se kleuters neem deel aan die sakresies.
’n Toeskouer maak hom vinnig uit die voete terwyl Rean Naudé in die motorfietsresies meeding.
Ivanka Marais op die wenpad.
Amo Mothapo en Sane Harmse ding mee in die hardloop item.
Lehan Benadie jaag in volle vaart tydens die motorfietsresies.
Sakresies konsentrasie: Thandolwethu Ngoma.

Related Articles

Back to top button