EntertainmentLifestyleLocal newsNewsStreeknuus

Pretoria Buitelug Ekspo en Fees is om die draai

Noem dit en hierdie fees het dit!

Pretoria Buitelug Ekspo en Fees is die plek waar jy wil wees.

“Gevoelens van nostalgie en ongelooflike herrinneringe kom by die vorige generasie op as hulle die woorde Pretoria Skou hoor,” het organiseerder Liza Welsh laat hoor.

Nou is daar ’n nuwe naam wat die ronde doen.

Een wat dreig om groter, beter en meer indrukwekkend te wees as enige ander fees wat Pretorianers ken.

KykNet, MTN, Pretoria FM, Maroela Media, Bidvest Protea Coin en die Waterpump Groep neem hande en bied vir die eerste keer Die Pretoria Fees by Legends MX op 22, 23 en 24 April aan.

’n Drie dag-partytjie is wat jy kan verwag en wat jy sal kry.

Met twee verhoë op die hoof-feesterein en ’n derde op die witsand-gebied, is jy verseker om jou smaak raak te loop.

Die fees is familie-georiënteerd en plaaslik.

Die verskeidenheid aktiwiteite wat jy kan verwag, sal jou mond laat oophang.

Die fees spog met ’n ongelooflike buitelug-uitstalling – van luukse woonwaens, bote en jetski’s tot sonpanele en selfs jag- en taktiese toerusting.

’n See van proteas om te aanskou. (Foto: Verskaf)

Die fees verwelkom vanjaar ondernemings wat elektriese motorfietse, waterstelsels en selfs sekuriteitstelsels vervaardig.

Daar is wel ook iets vir die toeskouers. ’n See van 40 000 proteas, 1 000 koningproteas en meer as 100 000 vetplante kan verwag word.

Gebruik sommer die kans om tuinmaak-raad te kry en allerlei ornamente en benodigdhede vir jou eie tuin aan te skaf.

Koop by een stalletjie tuisgemaakte brandsous en stap na die volgende waar jy ’n kunswerk vir daai leë eetkamermuur kan aanskaf.

Vir die jongspan is daar ’n pretpark met ’n magdom ritte, knortjorre en selfs die kans om op ’n kameel te ry.

Besoek ’n uitstalling van slange, spinnekoppe en skerpioene en kry ’n opvoedkundige les oor hierdie besonderse gediertes.

En as dit nie die bloed in jou are laat vinniger pomp nie, sal die aktiwiteite by die renbaan jou beslis wakker kry.

Legends Sky bied inleidingsvlugte aan oud en jonk, maar as jy veiliger op die grond voel, kan jy eerder saam in ’n Nissan GTR gaan jaag.

Liefhebbers van 4×4-uitdagings kan vir ’n reeks kompetisies wat op die perseel sal plaasvind, inskryf.

Langasems kan ook aan ’n landloopkompetisie deelneem.

Jy kan uitsien na vuurdansers, sirkuskunstenaars en ’n MMA-bokskryt vir gemengde gevegskuns,

Die hoofverhoog spog met Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Refentse, Bernice West, Martin Bester en Francois van Coke – om net ’n paar te noem.

Die tweede verhoog verwelkom van Suid-Afrika se beste opkomende talent.

“As Afrikaanse musiek nie jou ding is nie, kan jy jou skoene uitskop en jou tone by die Collision Festival in die sand gaan druk,” het Welsh vertel.

Die fees is belaai met alternatiewe musiek, rock en roll, en self psytrance.

Name soos Bittereinders en Black Cat Bones sal laatnag hierdie terrein aan die gang hou.

Soos by enige fees wat sy sout werd is, sal daar kosstalletjies wees wat alles dek, van tradisionele pannekoek tot hamburgers en klein oliebolle.

Die fees beskik ook oor ’n tuin vir elke smaak.

Sanger Dirk van der Westhuizen vermaak die feesgangers by verlede jaar se fees. (Foto: Verskaf)

’n Biertuin vergesel die hoofverhoog en ’n wyn- en teetuin sal by die tweede verhoog opgespoor kan word.

Die fees voldoen aan alle wetlike vereistes van feeste in die huidige klimaat en bied ’n veilige omgewing vir jonk en oud om ’n naweek van die “nuwe normaal” te geniet.

Kaartjies en meer inligting is beskikbaar op die fees se webtuiste by www.pretoriafees.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button