Local newsNews

Secunda-sanger wil inskryf vir gospelsangkompetisie

Oud-radioman droom daarvan om voltyds te sing en in bediening te staan.

Jaco Schwartz (54) het sedert sy kinderdae ’n liefde vir gospelmusiek gehad.

“Ons het grootgeword in ’n huis waar Jimmy Swaggart of Bill Gaither se plate altyd gespeel het,” het Schwartz gesê.

“Ek het in die middae na skool altyd een van hul plate opgesit en Sondae na kerk het ek altyd die musiek gekies.”

Schwartz het sowat 12 jaar gelede ’n gospelliedjie wat hy self geskryf het, laat opneem, maar dit nog nie bekendgestel nie.

Hy het op Brakpan grootgeword en is ná sy matriekjaar vir twee jaar weermag toe voor hy as klankman by die destydse SAUK begin werk het.

“Ek wou nog altyd vir die SAUK werk en het destyds, terwyl ek nog in die weermag was, by die SAUK gaan vra of hulle enige oop poste het,” het Schwartz vertel.

“Ek wou musiekopnames gedoen het, maar ek het toe, na my tyd in die weermag, ’n werk as produksie-assistent by die SAUK gekry.”

Schwartz het die nege jaar wat hy daar gewerk het, spesifiek vir die radiostasie, RSG, se twee programme, Monitor en Spektrum, gewerk en hy het dit terdeë geniet.

“Ek moes selfs een keer ’n radio-onderhoud doen met die organiseerder van ’n Bosveldfees wat gepraat het oor ’n verspoegkompetisie.

“Ek het so gelag in die onderhoud, want die deelnemers moes kyk wie spoeg die verste met koedoe-mis.”

Schwartz het in 1997 ’n skeidingspakket by die SAUK geneem en daar uitgestap as spesialis produksie-regisseur.

Sy pad het later met die country-sanger, FreddyVee, s’n gekruis wat hom aangemoedig het om sy musiekloopbaan te begin.

“Hy het vir my gesê ek het rou talent.”

Schwartz het later sy eie onderneming begin wat verf vir swembaddens gemaak en versprei het. Hy hettoe net deeltyds in die kerk se orkes gesing.

Die hunkering in sy hart om voltyds musiek te maak of in die bediening te staan, het egter nooit weggegaan nie.

Schwartz het reeds sy doktorsgraad in teologie voltooi.

Hy woon al die afgelope 11 jaar op Secunda en wil nou vlerke gee aan sy sangloopbaan.

Hy berei tans voor om in te skryf vir die Laat ons Juig-gospelsangkompetisie en moet vir sy inskrywing, ’n video maak waar hy sing.

“My grootste begeerte is om saam met ’n skare engele te sing.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button