Local newsNews

Gavin Deas van Secunda leef voluit ten spyte van tekortkominge

Man wil tienermeisie wat ook been verloor het, bemoedig.

Mnr. Gavin Deas (51) leef steeds voluit en glo daarin om altyd ’n positiewe uitkyk op die lewe te hê al het hy sy been verloor.

Hy het in 2010 sy been ernstig beseer toe hy in ’n motorongeluk was en dokters het destyds gesê hy is gelukkig dat hy die ongeluk oorleef het.

Mnr. Deas was oppad vanaf Witbank na Brendan Village, waar hy destyds gewoon het, toe hy beheer oor sy voertuig verloor en teen ’n aankomende vragmotor vasgery het.

Die enjin van sy voertuig het langs die pad gelê.

“Ek het ’n drankprobleem gehad en was onder die invloed van alkohol,” het hy vertel.

Hy was vir 21 dae in die hospitaal en het sy knieskyf gebreek en sy pelvis was op drie plekke gekraak.

Mnr. Deas het ná die ongeluk gesukkel met infeksies in sy been en die hele tyd gedink hy moet dit net tyd gee, sy been sou regkom.

“Toe ek vir een van my eerste fisio-sessies gegaan het na die ongeluk, kon ek glad nie my been optel nie,” het mnr. Deas vertel.

“Elke keer het ek gedink dit sal nog regkom en dit sal beter raak, maar dit het nie.”

Na jare se gesukkel met die been waartydens mnr. Deas in elk geval permanent met krukke moes loop, het hy in 2016 uiteindelik besluit om dokters te vra om eerder sy been te amputeer en sy been is in die begin van 2017 afgesit.

“Ek wou nie die hele tyd bedruk en bedroef wees omdat ek so sukkel met my been nie, toe het ek besluit dit sou beter wees om my been te laat afsit en eerder ’n kunsbeen te kry,” het hy gesê.

Mnr. Deas het in 2014 hulp gekry vir sy alkoholprobleem en by ’n ondersteuningsgroep aangesluit.

Sy uitkyk op die lewe is om na oplossings te kyk in plaas van hindernisse.

Hy het, nadat hy sy been laat amputeer het, sy voertuig laat inrig sodat hy met sy linkerbeen die pedale kan beheer.

Hoewel sy been al in 2017 afgesit is, het hy eers in die middel van 2018 sy eerste kunsbeen gekry want dit is ’n lang proses om die regte been te kry en te laat maak.

Hy bestuur dus daagliks self sy voertuig en is by die hengelklub en twee skietklubs, op Bethal en op Secunda betrokke.

Hy het selfs sy Springbok-kleure in skiet verwerf en hy het in 2015 ’n kontantprys en vuurwapen vir die beste skut in groepering gewen.

Hy het vroeër jare, voordat sy been afgesit is, op die myne gewerk as ambagsman en later as beplanner.

Deesdae hou hy homself besig deur rekenaars reg te maak en op te bou as hy nie langs die viswaters of op die skietbaan is nie.

Mnr. Deas het die artikel in die Ridge Times koerant van 3 Desember raakgelees van ’n tienermeisie van Bethal, Abigail Botha (15) wat ook onlangs haar been verloor het.

Hy het besluit om haar op Bethal te gaan sien om haar moed in te praat.

Hy het reeds met haar ma in verbinding getree en sal haar binnekort gaan besoek.

“Ek glo daarin om altyd die positief in alles te sien,” het mnr. Deas gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button