Streeknuus

Polisie meen vrou is met gholfstok doodgeslaan

Die omstandighede rondom die posisie van die liggaam is egter raaiselagtig, want hoewel dit geblyk het dat haar liggaam vanaf die afrit na onder gerol het, was daar ’n kombers, laken en handdoek onder haar liggaam.

Die vrou wie se halfnaakte, gekneusde en bebloede liggaam op 22 Oktober by Dwarsfontein/Argent-afrit op die N12-snelweg gevind is, is vermoedelik met ’n gholfstok doodgeslaan.

Die onbekende vrou, vermoedelik in haar laat 30s of vroeë 40s, se liggaam is skynbaar deur haar moordenaar teen die skuins wal (in die rigting van Witbank) by ’n stormwatersloot gelaat.

’n Verbyganger het omstreeks 14:15 die grootgeboude vrou met lang donker hare se liggaam in die stormwatersloot by die afrit opgemerk en die Middelburg Blitspatrollie daarvan in kennis gestel.

Die Delmas Polisie is na die toneel ontbied en paramedici het kort daarna die vrou op die toneel dood verklaar.

Die Delmas Polisie het bevestig dat ’n geregtelike nadoodse ondersoek op Dinsdag, 26 Oktober op die liggaam uitgevoer is.

Volgens kapt. Carla Hartley, mediawoordvoerder vir die Delmas Polisie, blyk dit dat die vrou vermoedelik vier houe met ’n gholfstok teen die regterkant van haar kop, agter haar oor, toegedien was wat na alle waarskynlikheid tot haar dood gelei het.

Daar is ook verskeie kneuswonde aan haar liggaam.

Die omstandighede rondom die posisie van die liggaam is egter raaiselagtig, want hoewel dit geblyk het dat haar liggaam vanaf die afrit na onder gerol het, was daar ’n kombers, laken en handdoek onder haar liggaam. ’n Swart bloesie met blommotiewe is ook naby die liggaam gevind.

’n Bos sleutels van onbekende oorsprong, is ook naby die toneel gevind.

Daar kon nog nie vasgestel word of die sleutels met die toneel waar die liggaam gevind is, verband hou nie.

“Die vrou se identiteit kon nog nie vasgestel word nie.

Vingerafdrukke was geneem en die polisie wag op identifikasie van die liggaam,” het kapt. Hartley gesê.

Die Delmas Polisie het ’n beroep op die publiek gedoen om met hulle in verbinding te kom as daar oor enige inligting beskik word wat hulle in hul ondersoek kan help. Die polisie kan by 013 668 2300/01 geskakel word.

Related Articles

Back to top button