Local newsNews

Jannie Scharneck van Standerton ontboesem sy hart

Daar is geen noemenswaardige newe-effekte van die chemoterapie nie, behalwe vir bietjie haarverlies en hy raak soms bietjie moeg.

Mnr. Jannie Scharneck is in remissie en sedert 8 Maart by die huis nadat leukemie by hom gediagnoseer is.

Jannie het op Maandag 19 Julie sy eerste Pfizer-inenting teen die koronavirus by die Standerton Hospitaal ontvang.

Sy bloedtoetse het aangedui dat dié pasiënt wel die inenting kan ondergaan.

Die gemeenskap van Standerton het ruim skenkings aan die Scharnecks gemaak vir mediese behandeling, maar sy vrou Berdien, moes eers haar kop skoonmaak om aan die ontvangkant van donasies te wees.

“Dit is makliker om te gee as te ontvang,” het Berdien laat blyk.

“‘n Vriend het my egter daarop gewys dat as ek nie geld van ander mense vat nie, ek hulle van die Here se seën ontneem.”

Nie dat sy Gods water oor Gods akker laat loop het nie.

Kolwyntjies is by die duisende vanuit die koffiewinkel gebak en verkoop en as dit nie vetkoekverkope is nie, word pannekoeke nou gebak om Jannie se 54 dae in die hospitaal te help betaal.

“Standerton het fantastiese mense,” het Jannie gesê. “As daar moelikheid is, is hulle daar.”

Jannie is op 27 Desember in die Mediclinic Highveld opgeneem waar bloedtoetse gedoen is en bloedkanker gediagnoseer is.

Dit is met ‘n veluitslag in Oktober verlede jaar ingelui.

‘n Velspesialis het kortisoonbehandeling voorgeskryf alvorens leukemie in die vel, wat seldsaam is, gediagnoseer is.

Jannie se berusting en aanvaarding van sy lot was en is verbind tot sy geloof.

 

“Ek het van die begin af gesê ek is reg om te gaan, maar as die Here my iewers nodig het, sal ek aanhou lewe.”

Hy is van Trichardt na Pretoria-Oos Hospitaal oorgeplaas en ‘n mediese span het gepoog om hartversaking, longontsteking en nierprobleme te behandel.

Die tydperk in isolasie in die hospitaal se intensiewe eenheid het genadiglik nooit onuithoudbaar geword nie.

Jannie het nie aan depressie begin ly nie, wat hy geheel en al toeskryf aan sy verhouding met die Opperwese.

Die kanker het ook na sy heupe versprei.

“Ek het baie pyn aanvanklik ondervind. Ek kon op ‘n stadium nie eens loop nie.”

Sy dokter het Berdien en die seuns ook na Pretoria laat kom,

“Daar is gesê hy het slegs ‘n week oor om te leef,” het Berdien vertel.

Jannie het chemoterapiesessies agter die rug en het by die huis met sy spuite en medikasie opgedaag.

Hy het weer op 28 Julie by Syferfontein-myn op Trichardt begin werk.

“Ek het daarna uitgesien om terug te gaan,” het Jannie gesê.’n Beenmurgoorplanting is nou die volgende stap en ‘n flikkergram is destyds in die hospitaal gedoen met die positiewe uitslag dat daar geen skade aan sy hart is nie.

“Jannie se twee broers is gewillig om beenmurg te skenk vir ‘n ‘match’,” het Berdien gesê.

Hy sal op 3 Augustus ‘n kardioloog besoek.

Berdien het gepleit dat die gemeenskap van Standerton gereeld bloed skenk.

“Ons is albei skenkers en Jannie het in die hospitaal elke tweede dag ‘n bloedoortapping ondergaan.

“Hy het laas op 5 Maart ‘n bloedoortapping gehad.”

Jannie het ook 35kg verloor en Berdien het die dieet versigtig aangepas wat suiker en te veel vleis betref.

Daar is geen noemenswaardige newe-effekte van die chemoterapie nie, behalwe vir bietjie haarverlies en hy raak soms bietjie moeg.

Die Scharnecks se ondersteuningsnetwerk strek regoor Suid-Afrika en tuis het familie, vriende, kerkmense, ondernemings, Lone Buddys en AfriForum Jeug begrip en empatie getoon deur daardwerklik by te dra tot onkoste.

“OnsRadio, Replika-gemeente en lidmate ondersteun ons baie,” het Berdien bygevoeg.

Die aantal nulle in ‘n hospitaalrekening skrik hulle nie meer af nie.

“Hoe kan dit nie goed met my gaan as my man so positief is nie?” het Berdien aan een dokter gesê.

Jannie Scharneck onderskryf die impak wat twee drome op hom gehad het.

“In die eerste droom tydens my longontsteking het ek op ‘n grondpad geloop en die Here het aan my gesê hy gaan my gesond maak.

Hy is die volgende dag na ‘n gewone saal oorgeplaas.

In die tweede droom was hy in ‘n parkeergebied by ‘n winkelkompleks en al die motors het verby een beskikbare spasie gery.

“Ek het daar die Here ontmoet.”

Jannie se begeerte om gesond te word, het verwesenlik en daarvandaan ondervind hy geen pyn meer nie.

Hulle mediese fonds het ook ‘n duurder opsie van chemoterapie destyds goedgekeur.

Vir albei die Scharnecks is Jannie se pad na herstel, ‘n reis saam met die Opperwese.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button