Local newsNews

Secunda-vrou sterf na ruk in hospitaal

Dogter sal haar ma as iemand met ’n sagte hart onthou.

SECUNDA – Me. Liesl Posthumus (52) is op Maandagaand, 7 Junie in ‘n hospitaal op Springs dood.

Me. Posthumus en haar man, mnr. Juan Posthumus is onlangs in die hospitaal opgeneem met Covid-19.

Die egpaar het die afgelope 30 jaar op Secunda gewoon en me. Posthumus het vir jare by die polisie gewerk voordat sy in 2008 daar weg is en ‘n entrepreneur geword het.

Inwoners sal haar onthou as ‘n vriendelike mens wat ‘n omgeehart vir ander gehad het en baie betrokke was by die gemeenskap.

Sy het van lekkergoed tot skoonheidsprodukte verkoop en sy het ook onder andere die Terra Nova Nagmark gereël.

Haar dogter, me. Lisa Posthumus, het gesê: “My moederlief was dié beste mamma, mens en vriendin wat daar nog ooit was en sal kan wees.

“My moedertjie het so ‘n klein en sagte hart gehad, maar daar was ‘n spesiale plekkie in haar hart vir ieder en elk wat haar geken het.

“My mamma was my lewe en my alles, ek gaan haar ontsettend baie mis.

“Sy het my geleer wat liefde, omgee en vergifnis is.

“Vir almal wat haar geken het en haartseer is oor haar afsterwe, onthou moeder se woorde: ‘Solank as wat jy nog kan huil, gaan dit goed met jou hart’.”

Me. Posthumus het almal vir die oproepe en boodskappe van omgee en ondersteuning bedank.

“Ons waardeer dit oneindig baie.”

Sy word oorleef deur haar man, mnr. Juan Posthumus, hul twee dogters, me. Posthumus en me. Lieske Jansen van Rensburg, ‘n skoonseun en twee kleinkinders.

Haar begrafnis vind vandag (Dinsdag, 15 Junie) om 10vm in Port Elizabeth waar sy grootgeword het, plaas.

‘n Gedenkdiens sal later vir haar op Secunda gehou word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button