Local newsNews

Morgenzon vergader om ineenstorting van dorp te verhoed

Eskom gaan ook die vragmotorlading verminder en ’n bestekopname sal gedoen word van die beskadigde stormwaterdreine.

‘n Poging is aangewend om Morgenzon-inwoners se dilemma met vragmotorbestuurders wat steenkool via die dorp vervoer, te besleg.

‘n Vergadering met die rolspelers het op Donderdag 22 April plaasgevind.

Die agtergrond tot die ongelukkigheid is die konstruksie aan die R35, wat deel is van die Sanral-netwerk, wat met die R39 verbind.

Vragmotorbestuurders gebruik nou die dorp se paaie wat, volgens ‘n sakeman van die dorp, mnr. Corné van Dijk, vernietigende gevolge het.

Hul getal staan op ‘n duisend vragmotors, wat daagliks deur Morgenzon na Majuba Kragstasie ry.

Sanral het een verteenwoordiger na die vergadering gestuur, Eskom vier senior beamptes en die gemeenskap, sakelui, boere en wykraadslid het omstreeks 10.30vm begin vergader.

Die voorsitterstoel is deur ‘n Eskom-beampte ingeneem, wat ‘n voorstel gemaak het dat ‘n klein komitee gereeld in die toekoms byeenkom om sake te bespreek.

Eskom gaan ook die vragmotorlading verminder en ‘n bestekopname sal gedoen word van die beskadigde stormwaterdreine.

Die paaie gaan ook geskraap word, hoewel mnr. Van Dijk dit betwyfel of dit by diep dongas sal help.

Volgens ‘n dokument van die kragvoorsiener, sien hulle die klagtes van die boere en gemeenskappe in ‘n ernstige lig en is genoop om op te tree.

Nie slegs verkeersregulasies word verontagsaam nie, maar ook hul eie padvervoerreëls.

Vragmotorbestuurders wat skuldig bevind word, sal met ingang van 26 April geskors word tot bewys van wettige optrede gelewer kan word.

‘n Vorige vergadering met Sanral, Eskom en die gemeenskap het op ‘n dooiepunt uitgeloop toe geen verteenwoordiger van Sanral opgedaag het nie.

Mnr. Van Dijk het by meer as een geleentheid die inwoners se frustrasie, misnoë en woede verwoord en het op Saterdag 17 April gesê dat dinge in absolute chaos verval het.

Hy het destyds twee vrae geopper, naamlik wat is die korttermynplan vir Morgenzon en wat is die langtermynplan?

“Munisipale paaie word as alternatief gebruik en munisipale eiendom word beskadig,” het hy ook gesê.

“Rioolwerke word verwoes en stormwaterskade aangerig.”

Vragmotorbestuurders parkeer ook in die woongebied om te oornag en gebruikte kondome is sigbaar die volgende oggend, hoewel daar nie in dié stadium ‘n wesenlike prostitusieprobleem is nie.

Mnr. Van Dijk was van mening dat Eskom die vragmotorbestuurders moet ‘police’.

“Ons mense is keelvol,” het hy benadruk. Inwoners het daad by die woord gevoeg deur op 18 Maart die toegangsroete vir vragmotorbestuurders te versper.

Die Standerton Advertiser se dekking van die situasie op ons buurdorp is op die webtuiste www.ridgetimes.co.za beskikbaar.

‘n E-pos is op 12 Maart om 10.12vm na me. Priya Pillay, hoof van korporatiewe kommunikasie by Sanral, gestuur.

Terugvoer is om 10.36vm ontvang dat die navraag na die ‘Press Office’ verwys is.

Geen kommentaar is sedertdien ontvang nie.

“Die vergadering op 22 April was redelik produktief en ons kon al ons griewe opper,” het mnr. Van Dijk gesê.

“Daar is egter nie heeltemal erken dat hul swak beplanning die oorsaak van ons probleme is nie.”

Hy het die hoop uitgespreek dat dit nie bloot leë beloftes sal wees nie, maar dat iets goed daaruit sal spruit.

’n Motoris gevaarlik naby aan ’n slaggat na reën in Maart. (Foto: Verskaf)
Morgenzon in Januarie 2018. (Foto: Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button