Local newsNews

Kinross se VLU-tak skop jaar af

Vroue kan volgende vergadering bywoon om te sien waaroor die VLU gaan.

SECUNDA – Lede van die Kinross VLU-tak het op Donderdag, 11 Maart vir die eerste keer vanjaar weer vergader en me. Doritha Swart het vir vroue gewys hoe om hangeroortreksels te brei.

Die voorsitter, me. Hannie van Niekerk, het ook vir vroue terugvoer gegee oor hoe hulle gevaar het in verlede jaar se kompetisie.

Me. Adrie van Niekerk was eerste in die afdeling vir gemengde media, terwyl me. Hannie van Niekerk tweede in dié afdeling geëindig het.

Me. Magda van Niekerk het tweede in die afdeling vir lemoenkonfyt-stukke geëindig en me. Hannie van Niekerk het tweede in die hekelwerk/gordynwegbinders-afdeling geëindig.

Me. Hannie en Adrie van Niekerk se gemengde media-handewerke het deurgedring na konferensievlak.

Me. Gerda Büter, voorsitter van die Hoëveld VLU-streek, het die Kinross-tak besoek en ook die vergadering bygewoon.

Die Kinross VLU-tak se voorsitter, me. Hannie van Niekerk, het gesê die VLU gaan oor meer as ‘n groep vroue wat tee drink en leer brei of hekel.

“Die doel van die VLU is om die vrou se kennis te verbreed, om haar eie talente te ontdek en dit te ontwikkel, om aan haarself hoë eise en standaarde te stel, om net met die allerbeste tevrede te wees, om haar uitkyk op die lewe te verruim, om van haar ‘n beter vrou en moeder te maak, om haar mensekennis te verbreed, om te volhard tot sy wen, maar om ook ‘n tevrede verloorder te wees, om haar gevoel van eie waarde te bevestig en laaste, maar nie die minste nie, om haar sorge te vergeet en aangenaam en gesellig te ontspan met mede VLU-lede.

“Die visie van die VLU is ‘n opvoedkundige organisasie waarin vroue met dieselfde waardes geleenthede tot verruiming gebied word sodat hulle ‘n bydrae kan lewer en ‘n daadwerklike aandeel kan hê aan die ontwikkeling van Suid-Afrika.

“Die missie van die VLU is om deur middel van hoë gehalte programme-kennis en vaardighede tot voordeel van die totale gemeenskap oor te dra en om as lede tuisteskeppers en meelewende landsburgers toe te rus.”

Die Kinross VLU-tak se volgende vergadering is op Donderdag, 8 April om 10vm. Me. Van Niekerk het gesê belangstellendes is welkom om dié vergadering by te woon. Vir meer inligting, skakel haar by 072 834 1554.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button