Local newsNews

Rondekerk en NG Kerk Trichardt nou een

Leraars se passie is om ’n familie van gelowiges te wees.

SECUNDA – Die N.G. Gemeente op Trichardt word nou een met die Rondekerk op Secunda.

Ds. Henry Stopforth, leraar by die Rondekerk, het gesê die Rondekerk het sedert 1 Maart twee bedieningspunte hê, een op Secunda en een op Trichardt wat bekend sal staan as die Rondekerk Trichardt.

“Die twee gemeentes, of eerder bedieningspunte, is identies, wat ons op Secunda doen, gaan ons op Trichardt ook doen,” het ds. Stopforth gesê.

Hy het die Rondekerk beskryf as ‘n liefdevolle geloofsfamilie waar almal welkom is, maak nie saak wat jou denominasie, ras of agtergrond is nie.

Hy het gesê hy en die ander twee leraars by die Rondekerk, sy vrou, ds. Mariëtte Stopforth en ds. Etienne Pheiffer, is opgewonde vir dié nuwe wending en die roeping om in Trichardt se gemeenskap in te vaar. Hulle is ingestel en gefokus om ‘n gemeente te wees wat sy merk maak om gemeentskappe te versorg en die koninkryk en evangelie op verskillende maniere uit te brei.

“Sending en barmhartigheid is steeds twee van ons sterk kanale om die koninkryk uit te brei,” het ds. Stopforth gesê.

Hulle wil ook op Trichardt by die skole, ondernemings, die polisiestasie en die hospitaal betrokke raak.

“Die unieke identiteit en styl wat ons reeds by die Rondekerk Secunda het, wil ons net so na Trichardt ook neem,” het ds. Stopforth gesê.

Daar is reeds ‘n Bybelstudiegroep vir Terra Nova Aftree-oord se inwoners op Trichardt.

Ds. Stopforth het gesê dit is hulle droom om later in Engels, in die vorm van ‘n aanddiens, geleenthede op Trichardt aan te bied waar hulle op informele maniere byeen kan kom en saam met alle rasse en tale en oor menswees, die lewe, geloof en die Bybel te praat en om as gelowiges saam te groei.

Die Rondekerk se tema vir 2021 is passievol en saam met die kruis van Jesus, is sy doringkroon vir hulle ‘n simbool van passie.

“Ons wil die eenwordingsproses met die Rondekerk op Trichardt ook met passie aanpak en is opgewonde oor dié nuwe fase en geleentheid,” het ds. Stopforth gesê.

“Ons is ook passievol oor die evangelie en die koninkryk van God en ons wil mense toerus en help om in ‘n verhouding met Jesus te staan.”

Die Rondekerk Secunda se eredienste sal elke Sondag om om 8.30vm begin en die Rondekerk op Trichardt se eredienste sal om 10vm begin.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button