Local newsNews

Lucille Lyon van Evander sterf aan kanker

Familie sal lewenslustige gholfspeler, ma en ouma mis.

EVANDER – Me. Lucille Lyon (66) is op Woensdag, 3 Februarie, na ‘n lang stryd teen kanker, dood.

Die gemeenskap sal me. Lyon onthou as iemand wat lewenslustig was en op die gholfbaan uitgeblink het.

Sy het die afgelope 26 jaar teen kanker baklei.

Me. Lyon het in Port Elizabeth grootgeword en sy het ná skool met ‘n hokkiebeurs aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer.

Sy het haar B. Prok Regte-graad verwerf en ook gespog met ‘n Joolprinses-toekenning.

Me. Lyon se beste vriendin, me. Lindi van der Merwe, het gesê me. Lyon was belese en gekultiveerd soos min met haar oorsese toere na Italië, Frankryk, China, die Verenigde Arabiese Emirate, Seychelles en Amerika.

“Sy was avontuurlustig en het gehou van fietsry, rotsklim, diepsee-hengel en vierwielmotorfietsry,” het me. Van der Merwe gesê.

“Uitdagings wat sy graag nog wou aanpak, was vlieërbranderplankry in die Kaap en om die Kilimanjaro-berg in Tanzanië te klim.”

Sy het me. Lyon beskryf as ‘n positiewe mens wat lief was vir die lewe en voluit geleef het.

“Sy was spontaan en het altyd gehelp waar sy kon.

“Haar veggees en positiewe uitkyk op alles was ‘n trotse voorbeeld vir almal.”

Me. Lyon se dogter, me. Lauren Nysschens, het gesê sy sal haar onthou as iemand wat opreg, lojaal, entoesiasties en altyd gereed was vir lekker kos of ‘n nuwe avontuur, onthou.

Sy was ‘n kranige brugspeler en het graag gholf gespeel, gelees of tuin gemaak.

Me. Lyon was twee keer die vroue-klubkampioen by Walkerpark Gholfklub en sy het ook as die Gold Rush-toernooiwenner weggestap en het drie keer die BMW-streektoernooi gewen en in die liga gespeel.

Gholf het haar geneem na gholfbane naby Hermanus, Sun City, George, Vietnam en Turkye. BMW het haar geborg om in van dié toernooie te speel.

Sy is op Dinsdag, 9 Februarie, vanuit die N.G. Kerk op Evander begrawe.

Me. Lyon was vir bykans 44 jaar met mnr. George Lyon getroud en sy laat hom, haar dogter, me. Nysschens, haar seun, mnr. George (jnr) Lyon, ma, me. Eve Burger (93), drie kleinkinders en al haar hartsmense en gholfvriendinne na.

Related Articles

Back to top button