Local newsNews

Hofbevel ’n deurbraak vir vinnige toegang tot ivermektien

Die hofbevel bepaal voorts dat enige persoon in aanmerking kom vir toegang tot ivermektien en dat mediese dokters daarop geregtig is om aansoek te doen vir toegang tot ivermektien.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 2 Februarie ’n hofbevel bekom wat dit vir dokters moontlik maak om behandeling met ivermektien te begin gelyklopend met die indiening van ’n artikel 21-aansoek.

Dit is in gevalle waar dringende toegang tot ivermektien volgens die oordeel van die dokter vir ’n pasiënt nodig is.

Die hofbevel is met die instemming van die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) bekom.

Volgens die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Middels moet ’n artikel 21-aansoek deur mediese praktisyns aan SAHPRA gerig word om medisyne voor te skryf wat nie in Suid-Afrika geregistreer is vir menslike gebruik nie.

Dit is ’n grensverskuiwende deurbraak aangesien dokters nie vir die goedkeuring van die artikel 21-aansoek hoef te wag voordat daar met behandeling begin word nie.

Dit is verder ’n groot oorwinning vir AfriForum en ander rolspelers omdat die besluit om met behandeling te begin aan mediese dokters se oordeel oorgelaat word.

Die hofbevel bepaal voorts dat enige persoon in aanmerking kom vir toegang tot ivermektien en dat mediese dokters daarop geregtig is om aansoek te doen vir toegang tot ivermektien.

Die gedeelte van die oorspronklike aansoek wat gaan oor die reg van mediese dokters en aptekers om volgens artikel 14(4) van die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Middels medisyne saam te stel, is uitgestel en sal op die normale hofrol geplaas word om op ’n toekomstige datum aangehoor te word.

“Dit is nou ’n bevel van die hof dat ’n mediese dokter met die behandeling van ’n pasiënt met ivermektien kan begin sonder om te wag vir die goedkeuring van ’n ingediende artikel 21-aansoek,” het mnr. Barend Uys, hoof van navorsing by AfriForum, gesê.

“Dié vinnige toegang tot ivermektien is ’n deurbraak vir vryheid in mediese sorg en ons stryd teen Covid-19, omdat die hindernis van vooraf goedkeuring nou uit die weggeruim is.

Volgens hom is dit ’n belangrike stap in hul poging om toegang tot ivermektien te verseker.

“Ek is bly vir die sekerheid wat die hofbevel gee dat dokters hul kliniese oordeel aan die dag kan lê om met ivermektien-behandeling te begin wanneer toegang dringend nodig is,” het dr. George Coetzee, die eerste applikant in die aansoek, gesê.

Aangesien die bogenoemde bepalings ’n bevel van die hof is, sal dit slegs gewysig kan word deur die hof te nader en sal SAHPRA nie dié bepalings eensydig kan wysig nie.

“AfriForum gee graag erkenning aan ander rolspelers, soos die ACDP en SAHARI wat ’n bydrae lewer om toegang tot ivermektien vir burgers te verseker en bewustheid daaroor te skep.

Ons gaan voluit saam met dié en ander burgerlike instellings voort met ons poging om te verseker dat ivermektien optimaal aangewend kan word om mense gesond te maak en lewens te red,” het mnr. Uys afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button