Local newsNews

Tannie Alet Louwrens van Standerton steeds aan die woeker op die plaas

Die Louwrense het op Ermelo ’n melkery bedryf kompleet met die koepons en bottelaflewerings, tekenend van die tagtigerjare.

Tannie Alet Louwrens, bekende boervrou in die distrik, werskaf op 91-jarige ouderdom nog op die werf tussen die gansies, lêhenne, kapokkies, poue, eende en makoue met haar honde en katte ook as geselskap.

Die koerant se persoonlike onderhoud is in die wiele gery met die reën wat onophoudelik geval het en die pad na die opstal onbegaanbaar maak.

‘n Plan is beraam en haar dogter, me. Christelle Jacobs, was bereid om hier en daar iets te verklap oor tannie Alet.

“Die huis is altyd vol lewe,” het Christelle gesê.

“Almal kom kuier op die plaas vir ‘n naweek.”

Gepraat van die plaas, tannie Alet het lewensreg op Langspruit, wat aan haar seun Francois bemaak is.

Haar oorlede seun David, het destyds Vlakrand aan wyle mnr. Jan Tonkin verkoop.

Soos die Boeremense maar maak, is dit eers tyd om die familie kortliks uit te lê.

Die familieregister maak ‘n draai tussen die Rautenbachs, Uyse en Bothas en tannie Alet se pa, Louis Johannes Botha, was ‘n afstammeling van gen. Louis Botha.

Die Louwrense het op Ermelo ‘n melkery bedryf kompleet met die koepons en bottelaflewerings, tekenend van die tagtigerjare.

‘n Plaas is daarna langs die gevangenis gekoop omdat dit moeilik vir oom TP was om die boerdery, vanaf Ermelo, te bedryf.

Hy is dood toe hy in sy 40’s was en tannie Alet het haar deel in die familieplaas verkoop en ‘n ander plaas Langspruit, wat grens aan die familieplaas Vlakrand, gekoop.

“Langspruit en Vlakrand het toe ‘n eenheid gevorm,” het Christelle laat blyk.

Tannie Alet en David het saam beplan en geboer tot sy dood. Sy het vyf kinders, twee dogters en drie seuns grootgemaak, asook pleegdogters.

Haar bloedafstammelinge staan op 10 kleinkinders en 19 agterkleinkinders en die pleegkinders maak vir vier kleinkinders en twee agterkleinkinders se bytel.

“Tannie Alet is ‘n mens met ‘n warm persoonlikheid wat lewensvreugde uitstraal,” het ‘n jarelange vriendin, me. Helen Ellis, gesê.

“Sy is uit en uit ‘n ‘survivor’ wat haar vryheid op die plaas uitleef.”

Hartseer was daar gewis in haar lewe toe die groot ‘k’ toegeslaan het.

David en Urbie was albei kankerslagoffers, onderskeidelik niere en kolon.

Hoewel dit hoorsê is, kan dit sekerlik nie fopnuus wees dat tannie Alet ‘n passie vir diere het nie.

“Ook het sy ‘n passie vir die lewe,” het Christelle gesê.

Die uiters onafhanklike en selfstandige vrou is ook nie ‘n vreemdeling in die kombuis nie. In haar groentetuin word ‘n verskeidenheid groente gepamperlang en pampoene en boontjies vind dan die pad na die inmaakflesse. Kallie, die papegaai moes ‘n naamsverandering ondergaan nadat sy na vyf jaar begin eiertjies lê het. Nou heet sy Karlie.

Christelle se sit- en televisiekamer spog met tannie Alet se handewerk, keurig, gebreide kombersies.

“Sy is ‘n perfeksionis as dit by brei kom,” het Christelle vertel.

Tannie Alet is vroeg uit die vere, die honde, drie buite en een binne, sowel as katte moet kos kry en haar eie ontbyt moet gemaak word.

Ringnekke en kanaries is daar ook. “Die kanaries sing haar in die oggend wakker,” aldus Christelle.

‘n Dogter het haar ma soos volg opgesom: “Sy het nie ‘n bang haar op haar kop nie.

“Die plaas is haar lewe.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button