Local sportSport

Covid-19: Wanneer rugbyklubs se seisoen weer begin, is steeds onbekend

Die nasionale inperking het die fiksheidvlakke van die plaaslike rugbyklubs se spelers beslis benadeel omdat die spanne nie byeen kan kom om saam te oefen nie.

HIGHVELD – Die Mpumalanga Rugby Unie het nog geen inligting oor ‘n amptelike terugkeerdatum na vanjaar se rugbyklubseisoen bekend gemaak nie.

Die nasionale inperking het die fiksheidvlakke van die plaaslike rugbyklubs se spelers beslis benadeel omdat die spanne nie byeen kan kom om saam te oefen nie.

Volgens mnr. Lodewyk Uys, hoofafrigter van die Sasol Digi Mag Rugbyklub kan dit veral tot beserings onder die spelers lei.

“Ons benadering met die terugkeer sal wees om die spelers eers fiks te kry voor enige kontakoefeninge begin. Ons spelers is almal goeie vriende en die manne is beslis weer lus om mekaar te sien en bietjie weer ‘n bal rond te gooi.”

Hy glo sy spelers gaan entoesiasties terugkom met nuwe lus vir die spel.

Die Sasol Digi Mag Rugbyklub het goeie momentum gehad vir die afskop van die seisoen op 9 Mei. Die manne was reg gewees om aan die gang te kom om hul titel te verdedig.

“Dit was natuurlik hartseer toe die wedstryde nie gerealiseer het nie. Van die manne het tuis oefeninge gedoen om fiks te bly en ander het weer gevoel daar sal genoeg tyd wees om fiks te word voor die seisoen begin,” het mnr. Uys oor die grendeltyd vertel.

“Ek glo nie die algehele prestasie van die spelers tydens wedstryde sal te erg beïnvloed wees wanneer die seisoen weer hervat word nie. Vir my gaan dit oor die bestuur van ons kant af om seker te maak ons bly aanpasbaar en doen die regte infasering as ons weer toegelaat word om te speel.”

Tydsberekening mag egter ‘n rol in die klub se seisoen speel, want Sasol se fabriekafsluiting is in September en as die seisoen teen daardie tyd op dreef is, mag dit moontlik probleme vir die werkende spanlede inhou.

Aan die ander kant kan die aanskuiwing van die seisoen na die somermaande wel ook voordele inhou.

“Dit kan sekere uitdagings soos siek spelers, koue en beserings, verminder wat ons as span kan help om ons titel te verdedig,” het mnr. Uys bygevoeg.

Die Sasol Digi Mag Rugbyklub se eerste span wat verlede jaar die Mpumalanga Premiersliga gewen het by die Mbombela Stadion in Nelspruit.

Related Articles

Back to top button