Local newsNewsSport

VIDEO – Gestremde neem aan perdrykampioenskappe deel

Ma en dogter deel liefde vir perde.

SECUNDA – Me. Magdaleen van Staden (21) is normaal gebore en was 17 maande oud toe sy ’n verkoue-virus gekry het wat na haar brein versprei is en later ’n epileptiese aanval gekry het wat haar liggaamlik gestrem gelaat het.

Sy het medikasie vir die epilepsie gekry en die dokter het later gesê hulle kon die dosis verminder.

Me. Van Staden het later ’n groter epileptiese aanval gekry en was vir 13 dae in ’n koma en vir 21 dae onder verdowing geplaas.

“Sy het op niks reageer nie,” het haar ma, me. Rhode van Staden, gesê.

Sy en ander famililede het vir me. Van Staden gaan bid en sy moes later van voor af leer loop, eet en praat.

Sy het die gebruik van haar regter arm en been verloor en haar spraak is aangetas.

“Ek kan beslis God se hand in haar lewe sien, want volgens dokters moes sy meer agteruit gegaan het,” het haar ma gesê.

“Magdaleen se lewe is ’n getuienis van hoe betrokke God by die mens se lewe is.

“As ’n mens kyk waar sy was en waar sy nou is, is God se guns beslis op ons lewens.

Me. Van Staden laat haar nie onderkry deur haar omstandighede nie en styg bo dit uit.

Sy het op die ouderdom van nege begin perdry en het onlangs die afdeling vir gestremdes by die nasionale Westelike Ruiterspele op Bronkhorstspruit gewen.

“Ek het nie gedink ek sal sover kom nie, dit was die eerste keer wat ek aan die nasionale kampioenskappe deelgeneem het,” het sy gesê.

Me. Van Staden moes vanjaar aan verskeie kompetisies deelneem om vir die nasionale spele te kwalifiseer.

Volgens haar ma wou die gesin ’n sport doen wat hulle as gesin kon doen, maar wat ook vir hul dogter sou werk.

“Perdry is die enigste sport wat lae spiertones verhoog en hoë spiertones verlaag,” het me. Van Staden gesê.

Sy het die bestuur van die Westelike Ruiterspele oortuig om ’n afdeling vir ruiters met gestremdhede te begin.

Me. Van Staden kan nie alleen op die perd ry nie en twee helpers hardloop saam met die perd om haar vas te hou.

“Dit gaan oor die ruiter se vaardighede,” het haar ma gesê.

“Daar was baie ruiters by die spele en Magdaleen moes ’n goeie selfbeeld hê om voor al daardie mense te ry.

“Die ruiters moet ’n sekere patroon waarvolgens hulle ry memoriseer en regkry en van die patrone is baie moeilik.”

Me. Van Staden meen dit is die ideale sportsoort vir ’n kind met gestremdhede omdat hulle terapie kry sonder dat hulle dit agterkom en dit boonop geniet.

Sy het self aan die spele deelgeneem en ook goed gevaar.

Me. Van Staden het kursusse in terapie vir ruiters met gestremdhede gedoen en leef haar passie uit deur daagliks met perde te werk.

“’n Mens moet lief wees vir dit wat jy doen.

As haar dogter nie perdry nie, werk sy in haar pa, mnr. Gerrie van Staden, se leeronderneming op Trichardt.

Sy geniet die perdry en doen dit vir die pret.

In haar vrye tyd stap sy bietjie of lees op haar tablet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button