Local newsNews

Ronel Starbuck van Standerton glo aan toeganklikheid en openheid

“Ek was die eerste en enigste Mej. Oos-Transvaal,” aldus die ma van Armand, Christiaan, Elisma, Wian en Nihann.

Me. Ronel Starbuck wat ‘n skoonheidsalon op Standerton bedryf, het bykans geen bekendstelling nodig nie nadat sy in 1994, die jaar van politieke veranderinge, die vierde plek in die Mej. SA-kompetisie behaal het.

Ronel, wat gebore en getoë op die dorp is, het ook ‘n eer te beurt geval voor die provinsies heringedeel en naamsverandering plaasgevind het.

“Ek was die eerste en enigste Mej. Oos-Transvaal,” aldus die ma van Armand, Christiaan, Elizma, Wian en Nihann.

Sy was ook die wenner van ‘n Sondagkoerant se leserskeuse.

Haar ondervinding by die nasionale skoonheidskompetisie is aan herinneringe van samesyn gekoppel.

“Ons was ‘n lekker groep wat saam gelag en gekuier het.”

Die skoonheidskoninginne wat om dié gesogte titel meegeding het, was vir sowat drie weke in mekaar se geselskap om die spraak- en dramaklasse, sowel as oefensessies by te woon vir die groot aand in die Super Bowl by Sun City.

“Dit was ‘n opwindende tyd in my lewe.”

Terug op Standerton het ma en dogter aan die werk gespring om ‘n Mej. Standerton op die been te bring, en die skoukomitee het hul daarna genader om ‘n Mej. Standerton Skou aan te bied.

Die gesin is lief vir onthaal, maar eggenoot Riaan sit sy voet neer as Ronel self wil braai. “Ons sit aan tafel en beplan reeds die volgende maaltyd,” het sy geskerts.

‘n Hoogtepunt in Ronel se lewe was ongetwyfeld die geboorte van haar kinders, asook haar huwelik met Riaan, wat sy koester.

Haar Christenskap is ononderhandelbaar met ‘n sterk fokus op heling en openheid oor enige vorm van mishandeling.

Die vraag oor watter skoonheidswenke sy vir vroue op Standerton het, is koponderstebo gekeer met haar lewensfilosofie.

“Daar is baie stukkende vroue wat nie besef hulle het ‘n keuse om hulle omstandighede te verander nie.

“As jy in die Here glo, sal Hy deure vir jou oopmaak.”

Related Articles

Back to top button