Local newsNews

Jakobus Bruyns leef ’n vol lewe na aftrede by die polisie

Een vriendin het opgemerk dat sy versameling van sowat 50 messe Italiaanse elegansie tot ’n Boeremes behels.

Mnr. Jakobus Bruyns, afgetrede polisieman, noem Standerton reeds sy tuiste vir 29 jaar en het verklap dat ons Hoëveldse dorpie hom geleer het hoe om stres te hanteer.

Sy mantras destyds in die polisiediens was om te sorg dat hy nie maagsere kry nie, nie in ‘n inrigting opgeneem word nie en nie sy eie wapen eet nie.

Jakobus het op Roodepoort grootgeword en daar gematrikuleer en kon so bietjie uithaak met gevaarlike goed soos eksperimente met buskruit.

Daar is selfs tot bo op ‘n kerktoring geklim om ‘n pamflet van Jeug-tot-Jeug-aksie vas te maak.

Sy belangstelling in messe het ook daar sy oorsprong.

Die Standerton Advertiser was bevoorreg om van sy versameling te sien wat van ‘n stilletto tot Damaskus-staal en knipmesse insluit.

Een vriendin het opgemerk dat sy versameling van sowat 50 messe Italiaanse elegansie tot ‘n Boeremes behels.

Moet ook nie verbaas wees as hy R4 000 blaas by ‘n mark vir ‘n toevoeging tot sy bestaandes nie.

“Ek wil nie te veel los vir die wurms nie,” aldus Jakobus.

Ook versamel dié boekwurm iets wat by sy wye belangstelling aansluit en rillers voer die botoon.

Jakobus vind aanklank by gevestigde misdaadskrywers soos Michael Connelly en Jo Nesbo en in Afrikaans is Ettienne van Heerden sy gunstelingouteur.

Hy het na skool besluit om by die polisie aan te sluit en as studente-konstabel op Roodepoort aangemeld en die bevorderingsleer geklim tot sersant by die polisiestasie op Mkhondo (Piet Retief).

Die nabygeleë grens met Swaziland het vir ‘n beduidende aantal padblokkades en spesiale patrollies gesorg.

“Ons is daagliks aan gevaar blootgestel,” het hy gesê.

Middelburg en Hendrina sou volg en hy het adjudant-offisier in die laat 90’s op Standerton geword.

Sy pensioendatum was November 2017.

Hy skryf gedigte sedert 1973 en ‘n volle 11 jaar, vanaf 1982 tot 1993, het verbygevlieg waar hy niks neergepen het nie.

“Met voortslepende stres raak jy noodgedwonge afgestomp.”

As diereliefhebber gee hy vir ‘n aantal straatkatte kos, benewens sy eie drie en meld gereeld by die DBV as vrywilliger aan.

Die viervoetige ontvangers kry kos en komberse, om nie te praat van die droëwors en biltong wat te voorskyn kom nie.

‘n Ander belangstelling is om geveerdes in die lugruim dop te hou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button