Local newsNews

Ds Martin Jordaan tref onderskeid tussen eiebelang en roeping

Die Jordaans koester goeie herinneringe aan die Vryburg-omgewing waar ’n wildsplaas besoek kon word as die behoefte aan ’n wegbreek daar was.

‘n Boerseun, wie se wortels terug na Ventersdorp, Belfast en Potchefstroom strek, het vier jaar gelede saam met sy gesin op Standerton aangekom en leef nou sy roeping hier uit.

Nee, wag ‘n bietjie, ‘n mens praat eerder van ‘n gekwalifiseerde ingenieurstegnikus wat ‘n loopbaanverandering gemaak het en by die Potchefstroom Universiteit ‘n BA-graad met Hebreeus en sielkunde as hoofvakke voltooi het.

Daarna het die AP Kerk se Akademie vir die volgende drie jaar gevolg voordat hy beroepsafwagtend na sy eerste gemeente vertrek het.

Sy vrou, Betsie, is op Potchefstroom ontmoet en die huweliksbevestiging het op Morgenzon plaasgevind.

Hulle seuns, Jan en Hannes, gaan skool by Hoëveldrif op Bethal waar Betsie skoolhoof is en die driestuks pendel daagliks.

Standerton is nou sy vyfde gemeente waar hy ‘n tradisionele, gereformeerde erediensbeskouing vooropstel.

Ds. Martin se standpunt oor roeping staan op drie bene, naamlik ‘n interne roeping, die eksterne asook die beroeping van die gemeente.

“Daar is ‘n verskil tussen eiebelang en jou roeping,” het hy laat blyk.

Hy sal selfs die ‘King James’-vertaling bykomend gebruik om sy boodskap aan die gemeente toe te lig, waar hy deeglik bewus is dat dit ontvanklik moet wees vir enigeen, van kinders tot bejaardes, wat voor die preekstoel sit.

Wanneer preekvoorbereiding, eredienste en gemeentewerk nie sy aandag opeis nie, verdiep hy hom in historiese en teologiese boeke, eerder nie-fiksie as fiksie, en moontlik sal daar op die agtergrond barokmusiek tot ernstige Afrikaanse musiek speel.

Die Jordaans koester goeie herinneringe aan die Vryburg-omgewing waar ‘n wildsplaas besoek kon word as die behoefte aan ‘n wegbreek daar was.

Hulle sal nou graag toer en die Bosveld hou ‘n spesiale bekoring in.

“Ek hou van enige plek waar jy in die natuur kan wees.”

In hulle agterplaas loop 20 skrophoenders omdat die aanvanklike doel was om om eiers beskikbaar te hê, maar nou is hulle nie om dowe neute daar nie.

“Ek verkies om vryloophoenders groot te maak en self te eet.”

Hy het vroeër aan padfietswedrenne deelgeneem en ook gevegskuns beoefen en huldig ‘n humoristiese standpunt oor draf.

“Ek hardloop nie as niks my jaag nie.”

Ds. Martin is ook handig in die kombuis en sal nie huiwer om die kruisskyf op die gasbrander te sit nie.

Met verwysing na Johannes Calvyn, het hy met die volgende afgesluit:

“Ons het net ligskerfies van God se kennis oor.”

Hannes, Betsie, ds. Martin en Jan Jordaan van Standerton. (Foto: Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button