MunicipalNews

Standerton-inwoners gooi emmer koue water oor Lekwa munisipaliteit

Die besoedeling van die Vaalrivier is ook geen vreemdeling nie met AfriForum wat die onaanvaarbare hoë e-coli-vlakke onder die aandag van die inwoners gebring het.

Riool- en waterprobleme vir Afrika.

Ongetwyfeld die voorland vir Standerton en bykans die hele Sakhile.

Met riool en water wat plek-plek strate verswelg, is dit die klein jakkalsies wat die wingerd verniel, siende die Lekwa Munisipaliteit, die provinsiale Departement van Water en Sanitasie en die nasionale regering ter sprake is.

Die besoedeling van die Vaalrivier is ook geen vreemdeling nie met AfriForum wat die onaanvaarbare hoë e-coli-vlakke onder die aandag van die inwoners gebring het.

Die Standerton Advertiser het die bul by die horings gepak en met inwoners wat uit desperaatheid hulle griewe en foto’s laai op Facebook-bladsye, in verbinding getree.

Me. Barbara Sheppard het geredelik ingestem om die koerant te woord te staan en volgens me. Sheppard, het die probleme die laaste vier jaar toegeneem.

Venturalaan 1 is nog ’n voorbeeld van infrastruktuur wat agteruitgaan. (Foto: Facebook)

Sy het onder meer verwys na die lekkasies agter Laerskool Jeugkrag en die toestand in Handelstraat waar ‘n bakkery handel dryf en Moslems hul geloof by die moskee beoefen.

Colignystraat het die twyfelagtige voorreg om in enige gesprek ter sprake te kom met slaggate wat ook daagliks groter raak na enige reën of water wat vrylik vloei.

Die ironie is dat watervermorsing en rioolpypprobleme hand aan hand gaan.

Me. Marianne English wat in Princess-straat werk, het akkoord met bogenoemde gegaan en dit selfs sterker gestel.

“Die dorp verander in ‘n rioolplaas,” het me. English gesê. Volgens haar, het werknemers by hul onderneming vir sowat ‘n jaar en vier maande geen toiletgeriewe gehad nie en hul moes noodgedwonge elders van geriewe gebruik maak.

Me. Louise Steyn se penarie in Standerstraat met riool wat opstoot het die hele buurt dwars in die krop gesteek.

“Die straat het in sekere gedeeltes in ‘n moeras verander,” het me. Steyn gesê.

Standerstraat 13 se moerasagtige toneel. (Foto: Facebook)

Baie inwoners skakel einde ten laaste self ‘n loodgieter om probleme op te los wanneer hul nie meer herwaarts of derwaarts weet nie.

Belastingbetalers het ook verlede jaar wykraadslede soos mnr. Rosier de Ville van die DA, genader.

Inwoners was moedeloos oor konstante waterverwante probleme op Standerton en het gemeen die mense waarvoor hul gestem het, doen niks daaromtrent nie.

Omgekrapte inwoners het hul na sosiale media gewend en mnre. De Ville, asook James Masango, het onder skoot gekom.

Hul nommers is gepubliseer en mnr. Bok Gleeson het gesê: “Kom ons bel hulle tot hulle kots vandag!”

Die kruising van Coligny- en Schwickardstraat kan beslis nie op ’n inskrywing van dorp van die jaar gebruik word nie. (Foto: Facebook)

Mnr. Gleeson het op 18 April gesê dat sy waterprobleme opgelos is nadat ‘n pyp herstel is.

Sommige inwoners het genoem dat hul lankal watertenks en pompe installeer het weens munisipale wanbestuur wat aan die orde van die dag is.

Ander het van die veronderstelling uitgegaan dat hul nie dié koste hoort aan te gaan nie en dat die waterkwessies deur die munisipaliteit aangespreek móét word.

Die Standerton Advertiser het, soos in die verlede, weer by die pompstasie en reservoir in Kieserstraat gaan ondersoek instel en gevind dat water steeds oral vermors word.

Kroghstraat 18A langs TMH Bearings kan ’n mens nie oor huis toe skryf nie. (Foto: Facebook)

Binne die pompstasie het water links en regs uit toerusting gespuit en ‘n mens kan net wonder hoe enigeen met krag wat óók hier vloei, veilig met hul werk kan omgaan.

‘n Betroubare bron het lig op die saak gewerp en verwys na die netwerk wat oud is en pype, asook kleppe, wat die munisipaliteit lankal reeds moes opgradeer het, maar dat hul huidige finansiële verknorsing dit nie toelaat nie.

Hy het ook gesê dat die munisipale werkers wat wel probeer om hier en daar sake te beredder, se hande afgekap is omdat stoorkamers, waar spaaronderdele aangehou moet word, leeg staan.

“Waterlekke oral op die dorp dra net verder by tot die watertekort, asook lae druk in die toevoerpype.”

Daar is met die munisipaliteit ooreengekom dat enige navrae of kommentaar per e-pos gestuur moet word.

‘n Lys van waterverwante probleme sal so gou moontlik opgestel en aangestuur word vir kommentaar.

Die toestand in Boekenhoutstraat oorkant no 5. (Foto: Facebook)
Venturalaan 1 is nog ’n voorbeeld van infrastruktuur wat agteruitgaan. (Foto: Facebook)
Venturalaan 1 is nog ’n voorbeeld van infrastruktuur wat agteruitgaan. (Foto: Facebook)
Agter Laerskool Jeugkrag lyk dit so. (Foto: Facebook)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button