Local newsNews

Die partytjies by die Petdam op Ermelo maak inwoners boos

“Oor meeste naweke en aan die einde van die maand is dit hel om hier naby die dam, wat eens ’n spogplek was te woon.”

Inwoners in die omgewing van die Petdam het onlangs hulle frustrasies oor die gereelde partytjies by die dam met die Hoëvelder meegedeel.

Een van die inwoners het vertel dat die voertuie al vroeg op ‘n Vrydagmiddag by die dam bymekaar kom, en dat een van die voertuie se musiek hard genoeg is, dat die hele omgewing se inwoners dit kan hoor.

“Die doef-doef vibreer deur ons mure en dit laat ons venters tril,” het een van die inwoners, wat graag anoniem wil bly, vertel.

Sy het verder vertel dat dit vir hulle wat om die dam woon, voel asof die wat by die dam kom partytjie hou se hoofrede is om soveel as moontlik te drink, met koelsakke vol drank wat uit elke voertuig gelaai word.

Die inwoners het bygevoeg dat hoe later dit raak, hoe harder word die musiek en dit duur soms tot vroeg in die oggendure.

“Soos daar gedrink en geëet word, word die rommel op die grond of in die dam gegooi.”

‘n Ander probleem wat die inwoners in die omgewing het met die partytjie-gangers, is dat daar op die sypaadjies van die inwoners ontlas word.

Dié moet dan deur die huiseienaars skoongemaak of verwyder word.

Die inwoners moet glo ook gereeld hulle tuinmure afwas, omdat daar teen geurineer word.

“Oor meeste naweke en aan die einde van die maand is dit hel om hier naby die dam, wat eens ‘n spogplek was, te woon.”

Die bejaarde inwoner het vertel dat daar vir hulle geen kans is vir ‘n middagslapie nie, met die musiek wat kliphard deur hulle huise gehoor kan word.

Sy het bygevoeg dat die paddalewe wat eens volop was en elke aand gehoor kon word, byna verdwyn het, en die kolganse wat hulle jaarliks sien groot word het, ook nie meer te sien is nie.

Die Hoëvelder het navrae gedoen by Msukaligwa Munisipaliteit oor hulle reëls en regulasies rondom alkohol verbruik by die Petdam, en volgens mnr. Mandla Zwane word alle gebruik van alkohol in publieke omgewings as ‘n kriminele oortreding aanskou.

“Volgens die munisipaliteit se verordeninge word alle persone verhoed om inwoners te steur deur na harde musiek in openbare areas te luister,” het mnr. Zwane afgesluit.

Die partytjie-gangers gooi volgens een van die inwoners in die omgewing hulle vullis, om die Petdam wat so deur die wind en die reën in die dam beland.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button