MunicipalNews

Ouditeur-Generaal draai nie doekies om nie

“Ons is van mening dat dié skuldlas op geen manier vereffen kan word nie.”

Die Ouditeur-Generaal se verslag oor die Lekwa Munisipaliteit draai nie doekies oor hulle geldsake om nie.

Volgens die verslag het die munisipaliteit ’n netto verlies gely van R310 489 929 vir die jaar geëindig 30 Junie 2017.

Die munisipaliteit se huidige verpligtinge oorskry die totale bates met R250 132 542.

“Die DA se herhaaldelike versoek dat die munisipaliteit onder administrasie geplaas word, val op dowe ore,” het mnr. Rosier de Ville, koukusleier van die DA, gesê.

Mnr. De Ville het gesê die dié verslag toon aan dat die finansies steeds afwaarts neig en dat die vraag gevra kan word of dit nog as ’n munisipaliteit kan voortbestaan.

Hy het verwys na die party se skriftelike antwoorde op hul vrae waarin die burgemeester, mnr. Linda Dhlamini, ’n bedrag van van meer as R930-miljoen as skuld aan onder meer Eskom, Departement van Waterwese en Departement van Vervoer aangedui het wat ook skuld aan ander krediteure en vir BTW ingesluit het.

“Ons is van mening dat dié skuldlas op geen manier vereffen kan word nie.”

Hy het ook gesê geen werkbare plan word aan die raad voorgelê om die probleem op te los nie en kortliks die huidige prentjie, met riool in die strate, slaggate wat al hoe groter word en verkeersligte wat nie werk nie, geskets.

“Standerton raak toenemend ’n rommeldorp,” het mnr. De Ville afgesluit.

Die Ouditeur-Generaal het sy twyfel uitgespreek of die munisipaliteit as ’n lopende saak kan voortgaan.

Die Standerton Advertiser het ’n e-pos aan me. Thobeka Mtshiselwa, kommunikasiebestuurder van die munisipaliteit, gestuur en wag op terugvoering.

Related Articles

Back to top button