MunicipalNews

Bejaarde inwoners vra hulp van munisipaliteit om rioolprobleme op te los

Die dreine wat oorloop met riool is meestal by die inwoners se kombuisdeure wat dit ondraaglik maak om kos te maak, met die stank van riool wat in die lug hang.

Die Hoëvelder het verdere ondersoek ingestel oor die munisipale behuising in Murraystraat waar die bejaarde inwoners al vir maande met rioolprobleme en dienslewering sukkel.

Volgens inwoners het hulle al verskeie male die probleme by die munisipaliteit aangemeld, maar dat hul klagtes op dowe ore val.

’n Inwoners het vertel dat hulle die rioolprobleem vroeg in Februarie aangemeld het. Sy het bygevoeg dat munisipale werkers een van die dreine op die perseel oopgemaak het, maar dieselfde probleem het weer twee dae later opgeduik.

Indien daar wel werkers uitkom om die dreine oop te maak, word die gemors agtergelaat vir inwoners om self skoon te maak.

“Geen persoon kan gesond bly met die riool wat permanent om ons huise vloei nie,” het een van die inwoners gesê.

’n Vrou het vertel dat sy vir drie weke siek in die bed was en meen dit is weens die konstante riool om haar huis.

Die dreine wat oorloop, is meestal by die inwoners se kombuisdeure wat dit ondraaglik maak om kos te maak weens die stank van riool wat in die lug hang.

Ander probleme op die perseel, is straatligte wat al vir vier jaar buite werking is, geute wat deurgeroes is en huise wat begin kraak.

In een van die huise is die verf in die badkamer besig om af te skilfer en daar is ’n gat in die plafon wat volgens die inwoner reeds deur die vorige inwoners van die huis by die munisipaliteit aangemeld is.

Een van die ontstoke inwoners het die Hoëvelder laat weet dat munisipale wekers na afloop van die vorige berig wat gedoen is, ’n vloeistof in die dreine kom gooi het maar dat niks verder gedoen is nie.

“Die riool loop al in die straat af en hulle sny net oproepe af,” het sy gesê.

Daar is weer navrae by die munisipaliteit gedoen oor die probleme by die perseel maar geen terugvoering is teen druktyd ontvang nie.

https://highvelder.co.za/65223/klagtes-val-op-dowe-ore/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button