Miems Goosen is op 105-jarige ouderdom oorlede

Me. Miems Goosen is Donderdag, 28 Junie op 105-jarige ouderdom in die SAVF-huis op Ermelo oorlede. Sy is op 7 Maart 1913 op Swartwaterplaas in die Bethal-distrik as een van sewe kinders gebore en het haar skoolloopbaan by ’n plaasskool in die omgewing voltooi. Sy het in 1936 na Ermelo verhuis waar sy by die …

Me. Miems Goosen is Donderdag, 28 Junie op 105-jarige ouderdom in die SAVF-huis op Ermelo oorlede.

Sy is op 7 Maart 1913 op Swartwaterplaas in die Bethal-distrik as een van sewe kinders gebore en het haar skoolloopbaan by ’n plaasskool in die omgewing voltooi.

Sy het in 1936 na Ermelo verhuis waar sy by die Spath’s Garage as administratiewe klerk gewerk het, het haar man, Jan, ontmoet en hulle is in 1943 getroud.

Vier kinders is uit die huwelik gebore. Mnr. Goosen het haar in 1972 ná 29 jaar ontval.

“Ons ouers het vir ons alles wat hulle kon gegee en ’n bietjie meer.

“Hul huwelik was ’n goeie voorbeeld vir ons kinders en my ma het gesê dat die tyd saam met ons pa vir haar te min was.

“My ma was ’n gewone mens, met foute soos ons almal, maar ’n mense-mens.

“Vir ons kinders was sy baie lief en ons welsyn was vir haar baie belangrik.

“Sy het in ons vreugde gedeel en ons hartseer was haar hartseer.”

Me. Goosen word deur haar kinders onthou as ’n besondere ma, skoonma en ouma.

“Oumie het herdefinieer wat dit is om ’n ouma te wees,” het haar oudste kleinseun gesê.

Me. Goosen se hande het vir niks verkeerd gestaan nie en sy het self haar kinders se klere gemaak.

Sy het by verskeie sakeondernemings op die dorp gewerk en was ook die huismoeder by een van die destydse Hoër Handelskool se koshuise.

Vanaf 1963 tot 1986 het sy die N.G. Kerk Moedergemeente se kantore beman en haar dogter onthou dat ds. Johan Crafford haar op haar ma se 100ste verjaarsdag gebel en genoem het dat me. Goosen een van die beste skribas was waarmee hy nog saamgewerk het.

Sy het enige tyd geweet het wat die stand van dié gemeente se finansies was sonder om die boeke te raadpleeg en was nooit verkeerd nie.

Me. Goosen word deur haar kinders, kleinkinders en agterkleinkind Attie en Laetitia, Tila en WIllie, Marie-Elize, Carmen en Reon, Louis en Lieria en Mia oorleef.

Die familie het die personeel van die SAVF-huis bedank, in besonder die personeel van die afdeling vir verswakte bejaardes, drs. Serfontein en van Zyl, ds. van Niekerk en ds. Vosloo en Doves vir hul bystand.

Hulle het ook hul waardering uitgespreek vir elke boodskap, SMS, oproep en elkeen wat hulp aangebied het.

’n Gedenkdiens vind op 21 Julie om 11vm in die N.G. Kerk Moedergemeente plaas.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button