MunicipalNews

Msukaligwa Munisipaliteit sê inwoners moet stortingsterreine gebruik, nie vullis enige plek aflaai nie

Daar sal teen mense opgetree word wat die munisipale verordeninge oortree.

Inwoners van Ermelo het onlangs die Hoëvelder gekontak en hul misnoeë uitgespreek oor die toename in onwettige stortingsterreine.

“Ons sien daagliks mense wat hul vullis langs die pad kom aflaai,” het ’n plaaslike inwoner wat anoniem wou bly, gesê.

Sommige inwoners het hul ontevredenheid uitgespreek omdat hulle meen dat die munisipaliteit geen poging aanwend om teen skuldiges op te tree nie.

Msukaligwa Munisipaliteit het vroeër vanjaar ’n veldtog geloods om Ermelo skoon te hou en ontslae te raak van onwettige stortingsterreine.

Werkers van die Community Workers Program het op 7 Maart onwettige stortingsplekke opgeruim.

Lees ook: Ontstoke Ermelo inwoners meen die stortingsterrein is ‘n gemors

Die munisipale woordvoerder, mnr. Mandla Zwane, het gesê die munisipaliteit se pogings kan slegs ’n sukses wees as die gemeenskap saamwerk.

Onwettige stortingsterreine besoedel nie net die omgewing nie, maar hou ook ernstige gesondheidsgevare vir die gemeenskap in.

“Ons doen ’n beroep op alle inwoners om die inisiatiewe te ondersteun deur vullis in die aangewese gebiede vir vullisversameling te plaas.”

Mnr. Zwane het gewaarsku dat optrede teen inwoners ingestel sal word wat die munisipale verordeninge wat afvalstorting reguleer oortree.

“Artikel 22 van die munisipale verordeninge van vullis (vaste afval) verbied die onwettige storting van afval,” het hy bygevoeg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button