Local newsNews

Pieter de Wit, bekende op Ermelo, sterf op 90-jarige ouderdom

Oud-direkteur van De Wit Motors is Saterdagoggend in Johannesburg oorlede.

Mnr. Pieter de Wit is Saterdag, 12 Mei op die ouderdom van 90 jaar in die vroeë oggendure in ’n hospitaal in Johannesburg oorlede.

Hy sal deur sy familie onthou word as ’n kerkman wat vanaf 1956 tot 2005 op die kerkraad gedien het en ook vir 10 jaar voorsitter van die seniorbediening van die N.G. Kerk Moedergemeente was.

Hy het ’n pragtige stem gehad en was die leiervoorsanger in die kerk. Hy het sy liefde vir koorsang uitgeleef en was vir baie jare lid van die kerkkoor.

Mnr. De Wit was lief vir sy taal en tradisies en as jarelange volkspeleleier het hy ook op die nasionale raad van volksang en volkspele gedien. Hy het vir drie maande saam met 68 mede Suid-Afrikaners in die stamlande oorsee volkspelevertonings gehou en bande gesmee wat hulle as ’n familie saamgebind het in 1958.

Hy was goed gevestig as sakeman en het op die bestuur van die Afrikaanse Sakekamer gedien.

“Hy het ’n reuse bydrae tot die motorbedryf gelewer en was vir baie jare ’n direkteur van De Wit Motors. Sy eerlike en nederige bestuurstyl het ’n groot bydrae gelewer tot die sukses van dié onderneming, en sy vriendelikheid teenoor sy medemens sal altyd onthou word,” het mnr. Johan Coetzer, huidige eienaar van De Wit Motors, gesê.

Lees ook: Beatrice Barnard sterf onverwags

Mnr. De Wit het ook ander talente gehad en sy vaardige vingers het tientalle bruide se blommerangskikkings gedoen. As vaardige tuinier het hy baie pryse vir sy tuin en sypaadjies gewen.

Sy liefde vir bome, blomme, berge, diere en water het daartoe bygedra dat hy baie na aan die natuur geleef het.

Sy gesin onthou hom as ’n uitnemende eggenoot, vader en oupa wat altyd uitgevra en belanggestel het in alles wat hulle gedoen het. Hulle het hom beskryf as ’n sagte man met sagte oë wat ’n vol lewe gelei het.

’n Gedenkdiens vir mnr. De Wit word voorlopig vir Dinsdag, 22 Mei om 11vm in die N.G. Kerk Moedergemeente beplan.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button