MunicipalNews

Volledige artikel: Hoop vir Standerton-ashoop

Morgenzon-stortingsterrein is een van 25 ashope in Mpumalanga wat nie meer in gebruik is nie.

Daar is moontlik ’n silwer randjie op die horison van die ashoop.

Dit was onlangs weer ’n onaansienlike gemors om op die R546 in of uit te ry.

Vullis het langs die pad opgehoop waaronder binnegoed van diere, velle en selfs ’n dooie kalf.

Die ingang na die asgate was heeltemal ontoeganklik.

Mnr. Abé Foley van Sahara Sand het sy stootskraper en een van sy vragmotors waarmee sand vervoer word, beskikbaar gestel om die rommel na die binnekant van die terrein te verskuif.

Aan die binnekant het hulle die rommel op hope gestoot om plek vir nuwe rommel te maak.

Tydens die Lekwa raadsvergadering op 28 Februarie het aan die lig gekom dat die munisipaliteit nie die permitvereistes soos voorgeskryf deur vullisterreinvoorskrifte nakom nie.

Die regsafdeling van die munisipaliteit het gesê dat die toestand van die vullisterrein nie geïgnoreer kan word nie en uitkontraktering blyk in die stadium die beste manier wees om ’n regsgeding of boetes te vermy wat uit die nie-nakoming van vereistes kan spruit.

Volgens mnr. Johannes van der Wath, DA-raadslid het hulle tydens dié vergadering ’n voorstel aanvaar om die instandhouding van die terrein uit te kontrakteer.

“Dit is ’n voorstel was die DA al menigmale in die verlede aan die raad voorgelê het en ek is dankbaar dat dit nou aanvaar is,” het mnr. Van der Wath gesê.

“Indien die regte kontrakteurs aangestel word, sal dit ’n haalbare oplossing vir die probleem wees.”

Morgenzon se stortingsterrein is een van 25 ashope in Mpumalanga wat nie meer in gebruik is nie.

Die munisipale bestuurder, mnr. Linda Tshabalala, het voorgestel dat alle rommel op Morgenzon tydelik by die Standerton-asgate weggegooi moet word totdat ’n praktiese oplossing vir die probleem op die tafel gelê kan word.

Intussen is Sahara Sand se toerusting vir ’n tydperk van 25 dae onder kontrak van die munisipaliteit op die vullisterrein om opruimwerk te doen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button