Local newsNews

Kyle Verfaillie weer onder mes

Toetse het getoon dat daar nog 'n verbinding êrens in die brein is wat die aanvalle veroorsaak en dat nog 'n deel van die brein verwyder moet word.

Kyle Verfaillie (10) wat einde verlede jaar met Rasmussen se sindroom gediagnoseer is, moes verlede week nog ‘n operasie wat sewe uur lank geduur het, ondergaan.

Hy het in Februarie ‘n 16-uur lange operasie in ‘n Kaapstadse hospitaal ondergaan waartydens sy linkerbreinlob verwyder is.

Ongelukkig is die operasie nie ‘n wonderkuur nie en sou Kyle vir ‘n geruime tyd nie weer normaal kon sien, praat of loop nie.

Ná die operasie het Kyle alle motoriese funksies aan die regterkant van sy lyf verloor en sy vermoë om normaal te funksioneer, te praat en te sien, is aangetas.

Hy sou moes leer om normale take wat ‘n seun van sy ouderdom as vanselfsprekend aanvaar, te verrig: self aantrek en badkamer toe gaan tot die vermoë om self vir hom ‘n toebroodjie te maak.

Sedert hul tuiskoms die eerste week in Maart, het die gesin dadelik begin met Kyle se rehabilitasieproses.

Hy sou voortaan 24 uur sorg nodig hê en alles wat mens as vanselfsprekend aanvaar, weer soos ‘n baba van vooraf moet leer.

Ná dié operasie het Kyle almal verbaas met sy vinnige vordering tot in April toe hy skielik weer tot 50 epileptiese aanvalle ‘n dag begin kry het en bloed gebraak het.

Hy is weer in ‘n hospitaal in Pretoria opgeneem.

Raadop en sonder enige behandelingsplan, het dokters hom drie dae later huis toe gestuur.

Vier dae ná sy tuiskoms het Kyle se simptome verdwyn en die aanvalle eenvoudig net opgehou.

Asof dit nie ‘n wonderwerk self was nie, het Kyle eenvoudig net een oggend van ‘n bank af opgestaan en begin loop.

Van daar af kon sy vordering daagliks gemeet word en het sy terggees weer na vore gekom.

Vir ‘n wyle was Kyle weer die jong seun wat genot uit sy ouma se reaksie put as hy haar siel uittrek.

Verlede maand het hy weer ‘n groot terugslag beleef met tot ‘n honderd aanvalle per dag.

Dit was nie moontlik om sy medikasie te vermeerder nie.

Sy dokters in die Kaap was baie besorg en het aangedring dat Kyle hulle so gou moontlik weer besoek.

Kyle en sy pa, Marc, het op 24 Junie Kaap toe gevlieg en met hul aankoms het Kyle dadelik ‘n MRI- en EEG-skandering ondergaan.

Die toetse het getoon dat daar nog ‘n verbinding êrens in die brein is wat die aanvalle veroorsaak en dat nog ‘n deel van die brein verwyder moet word.

Kyle het op 27 Junie ‘n operasie ondergaan en is ses dae later uit die intensiewesorgeenheid na die pediatriese eenheid geskuif.

Teen druktyd Dinsdag was Kyle steeds in die hospitaal en die dreineringsbuise is reeds verwyder.

Hy het op dié tydstip glad nie geëet nie omdat hy niks binne kan hou nie.

Weens geldelike verpligtinge wat die ouers moet nakom, is Marc en Kyle sonder die res van die gesin Kaap toe vir die operasie.

In ‘n telefoniese gesprek met Marc het hy gesê hulle kan nou net bid vir genesing, dat alles in die Here se hand is en Sy wil sal geskied.

Mense wat die gesin graag in hulle nood wil bystaan, kan die Ermelo Nedbank-spaarrekeningnommer 1005257833 gebruik. Die rekeninghouer is MDM Verfaillie.

Rasmussen se sindroom is ‘n rare inflammatoriese neurologiese siekte wat aan aanvalle soortgelyk aan epilepsie herken word.Die siekte wat hoofsaaklik in kinders onder die ouderdom van 15 voorkom, tas een van die breinlobbe aan. Geen medikasie kan die simptome verlig of die siekte genees nie en die enigste uitweg is om die aangetaste lob te verwyder met die hoop dat die ander lob mettertyd die breinfunksies sal oorneem.

 

    

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button