Editor's choiceEntertainmentLifestyleLocal newsNews

Duane verfilm musiekvideo in Standerton

Duane, geklee in 'n broek, wit hemp met kruisbande en 'n baadjie nonchalant oor die skouer, het selfs 'n hoed opgehad om die prentjie af te rond.

Duane Louw het op 5 Desember ‘n video-opname van sy debuut cd in twee statige gastehuise op Standerton geskiet.

Die tyd waarin die video afspeel is die 50/60-er jare en die gastehuise se dekor het hom geleen na die era.

Duane, geklee in ‘n broek, wit hemp met kruisbande en ‘n baadjie nonchalant oor die skouer, het selfs ‘n hoed opgehad om die prentjie af te rond.

Die enigste moderne item was sy oorbelle, wat nie rebelsheid verteenwoordig nie, maar ‘n persoonlike voorkeur.

‘n Regisseur, Desmond Denton, het spesiaal vanaf Kaapstad gevlieg om saam met die koördineerder, Jaco van Dyk, ‘n droom te verwesenlik.

Desmond het die musiekvideo geskryf en werk tans aan ‘n televisiereeks Spelonk.

Duane, ‘n onderwyser by Tlhabane West Primary School op Rustenburg, se As die stof gaan lê gaan oor mense wat jy op jou lewensreis ontmoet en weer totsiens sê, maar wat jou naam moet onthou.

Duane het in 1998 ‘n kitaar by ‘n vriend se pa gekry en skouer aan die wiel gesit, met hulp van sy oom, om dit te bemeester.

“Almal droom om ‘n musikant te wees,” het hy gesê.

Hy het self die lirieke van die 10 snitte geskryf en put sy inspirasie uit persoonlike ondervindings.

Duane se geloof word in meeste van die snitte benadruk en die pa van 14-maande Hendrie, is saam met sy vrou, Melissa, betrokke by musiekbediening.

Hulle tree onder meer by skole, kampe, kerke en jeugfeeste op.

“Ek is nie skaam om te sê ek is ‘n kind van die Here nie.”

Volgens hom is dit moeilik in die musiekbedryf om geloof uit te leef maar hy sal nie sy siel vir sukses verkoop nie.

 

Volgens hom is dit belangrik om jou eie musiek te skryf en jy moet iets uniek na die oorvol bedryf bring.

“Ek wil nie net musiek maak nie, ek wil goeie musiek maak.”

Sy gunsteling Afrikaanse sangers is Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan, Elvis Blue, Robbie Wessels, Nádine en moet ook nie vir Ampie du Preez agterweë laat nie.

Volgens hom ry Afrikaanse musiek die kruin van die golf.

Om voltyds gr. 4 en gr. 5 leerlinge te onderrig en ‘n musiekloopbaan te hê is ‘n balanseertoertjie.

“As dit jou passie is, maak jy tyd daarvoor.”

Die lang ure skrik hom nie af nie en hy sal eendag graag voltyds wil sing.

“Ek glo ek sal voor die einde van volgende jaar dit voltyds doen.”

Kersfees sal saam met sy gesin deurgebring word en vir die Nuwejaar wag ‘n besoek aan Langebaan.

Die cd sal eerste op “itunes” vrygestel word en die musiekvideo op “youtube”.

Duane het die eerste stap na ‘n musiekloopbaan geneem en ons dorp sal moontlik herken kan word op die video.

 

Besoek gerus ons ander webtuistes hier:

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons Facebookblad en volg ons op Twitter.

Vir nuus wat na jou selfoon gestuur word:

BBM – 266F5BCC

WhatsApp – 0748872805

 

Related Articles

Back to top button