Elections 2014Local newsMunicipalNews

Deon ‘stem’ saam

Mnr. Deon Bekker, die verkiesingsprojekkoördineerder van die OVK in ons streek, maak seker ons het ’n vry en regverdige verkiesing.

Van die Kaap tot in Korea het reise deel van verkiesingsopleiding gevorm.

Mnr. Deon Bekker, die verkiesingsprojekkoördineerder van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in die streek, maak seker van ’n vry en regverdige verkiesing.

Mnr. Bekker is op Kirkwood in die Oos-Kaap gebore.

Hy het in 1961 sy skoolloopbaan by Laerskool Robertson begin.

In sy eerste jaar van hoërskool het hy saam met sy gesin Standerton toe getrek waar hy by Hoërskool Standerton aangesluit het.

“My pa het by Nestlé gewerk en is Standerton toe verplaas,” het hy gesê.

Na skool het hy by die destydse Volkskasbank in 1974 begin werk.

In 1975 is hy weermag toe vir ’n jaar.

Hy het na die weermagopleiding weer by die bank tot 1977 gewerk.

Mnr. Bekker het in 1978 met sy vrou Sarita getrou en hulle het drie dogters en vyf kleinkinders.

Na sy bankondervinding het hy by die destydse provinsiale ouditeur-generaal gewerk waar hy tot provinsiale ouditeur bevorder is en vir nege jaar werksaam was.

Daarna het hy by die Secunda Munisipaliteit as ’n interne ouditeur gewerk en later as ’n hoofdataverwerker.

In 1996 het hy sy eie eetplek op die dorp begin.

Hy het in 1998 weer by die Standerton Munisipaliteit aangesluit en in 2003 by die OVK begin waar hy homself tans bevind.

Die OVK het hom ook die geleentheid gegee om as ’n projekkoöordineerder, assessor, fasiliteerder en moderator te kwalifiseer.

“Familie is vir my baie belangrik en wat my die gelukkigste maak, is om saam met my familie te kuier,” het mnr. Bekker gesê.

“Dit is belangrik dat almal wat kan stem, stem want dan kan jy deel van die land se besluite wees.

“Ons moet as die reënboognasie saam staan en saam bou.”

In 2014 het die OVK hom Suid-Korea toe gestuur om te sien hoe die verkiesing daar werk.

“Wat ’n belewenis.

“Die mense daar is positief, hardwerkend, netjies en ook lojaal teenoor hulle werkgewers.”

Geloof speel ook ’n groot rol in sy lewe.

“Die boek van Job in die Bybel beteken vir my baie want dit sê die Here kan gee en die Here kan neem, niks is ons s’n nie.

“Die verhaal van Dawid is ook belangrik, almal doen verkeerd, maar die Here sal jou vergewe as jy vergifnis vra,” het hy ook gesê.

Sy lewensfilosofie is om te lewe vir vandag.

Sy grootste prestasies is om 35 jaar getroud te wees en die voltooiing in 1986 en 1987 van die Comrades Marathon.

Hy kyk nie graag rugby nie, maar sal enige span, behalwe die Blou Bulle, ondersteun.

Hy is bitter teleurgesteld in die Proteas, maar sê dat as hulle hulle volle 50 beurte teen Nieu-Seeland gekolf het, hulle dalk die beker huis toe gebring het.

“Die OVK berei tans vir volgende jaar se verkiesing voor, so registreer, stem en maak ’n positiewe verandering aan almal se toekoms.”

 

 

Besoek gerus ons ander webtuistes hier:

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons Facebookblad en volg ons op Twitter.

Vir nuus wat na jou selfoon gestuur word:

BBM – 266F5BCC

WhatsApp – 0748872805

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button