Local newsLocal sportNewsSport

Lizelle terug in SA weens skouerbesering

Sy het reeds 20 eendag- en 27 T20-wedstryde vir die Proteas gespeel.

‘n Skouerbesering het veroorsaak dat Lizelle Lee, SA Protea-vrouekrieket-speler, uit Engeland moes terugkeer na Suid-Afrika nadat sy sedert April vanjaar daar klub- en graafskap-krieket speel.

Lizelle het in ‘n kort tydperk haarself bewys as ‘n integrale deel van die Bath Cricket Club en ook die Somerset Vroue Graafskapspan.

Lizelle ondergaan tans behandeling vir haar besering en is vol vertroue dat sy fiks sal wees vir die komende SA Protea-eendag- en T20-toetsreekse teen Bangladesj in Oktober

Dié oudleerling van Ligbron Akademie vir Tegnologie het vroeg reeds haar merk op die krieketveld gemaak . Benewens ‘n vaste plek in die Liggies se dogterskrieketspan, het sy ook as 0/15-dogter vir die 0/19-Mpumalanga-vrouespan gespeel.

Daarna is sy as student by die Noordwes Universiteit (Potch) raakgesien vir haar krieketvernuf en is gou in die Noordwesspan opgeneem.

‘n Besliste hoogtepunt in haar loopbaan was toe sy gekies is vir die SA Protea Vrouespan in die eendag- sowel as die T20-weergawes van die spel.

Sy het reeds 20 eendag- en 27 T20-wedstryde vir die Proteas gespeel.

As kolwer vir die Bath Cricket Club, het Lizelle sedert April in 15 ligawedstryde gespeel en 912 lopies opgestapel en spog met ‘n kolfgemiddeld van 70.15 lopies .

Haar hoogste telling was 137 as lid van die Bath Wanderers 1st X1. Vir dié span het sy altesaam 530 lopies in slegs sewe kolfbeurte gemoker vir ‘n kolfgemiddeld van 88.33 lopies per beurt.

Dié kranige krieketspeler het ook haar “man” gestaan vir die Bath tweede, derde en vierde spanne waar sy as lid van die manspanne teen mans moes kolf en boul.

“Nee, hulle hou nie terug nie. Hulle boul net so hard en vinnig na my en slaan my boulwerk met net soveel aggressie as teen die mans,” het sy vinnig laat weet.

As bouler het sy altesaam 52.3 boulbeurte vir haar klub in ligawedstryde afgestuur en 20 paaltjies ingeoes vir die 198 lopies wat afgestaan is vir ‘n gemiddeld van 9.9 lopies per paaltjie.

Vir die graafskapspan Somerset het Lizelle ook haar merk gemaak in beide eendag- en T20-wedstryde en in ‘n wedstryd teen Devon het sy haar veelsydigheid gewys deur 3/8 lopies in 10 boulbeurte te neem en in dieselfde wedstryd het sy 111 lopies met die kolf aangeteken.

“Namens die hele skoolgemeenskap van Ligbron wens ons Lizelle baie geluk met haar suksesvolle krieketloopbaan. Sy het hard gewerk hiervoor en groot dissipline aan die dag gelê.

“Ons is baie trots op haar en wens haar alle sukses vir die toekoms.

“Ons hou haar loopbaan met groot belangstelling dop,” het skoolhoof, mnr. Dup van Rensburg van Ligbron Akademie vir Tegnologie, gesê.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button