Local newsNews

Irene deel haar storie

Irene is ambassadeur vir Loslitdag.

SECUNDA – Loslitdag word landwyd op 5 September gevier en meer as twee miljoen mense, 10 000 ondernemings en 500 skole neem jaarliks aan dié dag deel.

Me. Irene Magarine Fischer is onlangs as een van 17 Loslitdag-ambassadeurs aangestel om te help om bemarking vir dié projek te doen.

Loslitdag samel reeds vir 20 jaar geld vir mense met gestremdhede in en is Suid-Afrika se belangrikste geldinsamelings- en bewusmakingsprojek.

Me. Fischer was in 2009 ’n jong, energieke omroeper by die OFM-radiostasie in Bloemfontein voordat haar lewe onherroeplik verander het toe ’n vragmotor oor ’n rooi verkeerslig gery en ’n ongeluk veroorsaak het.

Sy het ’n breinbesering opgedoen en die skade aan haar brein en liggaam het haar loopbaan op radio kortgeknip.

Dokters het na die ongeluk in Oktober 2009 gesê sy sou net vir 72 uur leef, maar me. Fischer het drie maande in die hospitaal gebruik om weer te leer eet en praat.

Sy is daarna na ’n rehabilitasiesentrum waar sy weer moes leer regop sit en loop.

“Ek is ’n hemipleeg,” het sy gesê.

“Hemiplegie is soos die derde wiel aan die ‘disability’-wa.

“Almal weet wat ’n parapleeg en ’n kwadrupleeg is of het al daarvan gehoor te danke aan die Paralimpiese Spele en bekendes soos die oorlede Christoper Reeves.

“’n Hemipleeg ondervind verlamming aan een kant van hul lyf weens ’n breinbesering.

“Verlamming is altyd aan die teenoorgestelde kant van waar die brein beseer is.

“Die regterkant van my lyf was heeltemal verlam vir bykans vyf maande ná die ongeluk.

“Ek was gelukkig genoeg om baie beweging en krag te herwin, maar die regterkant is swakker as die linkerkant van my lyf en effens spasties.

“Ek is dus meestal van ’n rolstoel afhanklik.”

Sy het gevind dat sommige mense haar anders hanteer of selfs ignoreer wanneer sy in haar rolstoel is.

“Klomp aaklige aannames word gehuisves oor traumatiese breinbeserings.

“Baie mense weet ook baie min van alle ander gestremdhede.

“Meeste mense stel gewoonlik net belang in enige gestremdheid wanneer ’n geliefde direk geaffekteer word.

“Dit moet ent kry.

“Ek voel ek moet probeer om ’n verskil te maak.

Die organiseerders van Loslitdag het mense gevra om op dié dag gemaklik, formeel of sommer net verspot aan te trek na hul werk en die amptelike Loslitdag-plakker te dra.

Lees meer oor me. Fischer se verhaal op haar webtuiste by www.mylifewithabrokenbrain.co.za.

Die tema vir vanjaar se Loslitdag is Blinkkant Bo.

Dié projek behoort aan en word beheer deur Die Nasionale Raad vir Persone met Liggaamlike Gestremdheid in Suid-Afrika en word jaarliks georganiseer deur die raad se Loslitdag-span.

Organisasies en ondernemings kan deelneem deur geld in te samel of donasies vir die plakkers van R10, te gee.

Plakkers is by verskeie ondernemings en winkels beskikbaar of by Mental Health Secunda.

Skakel Mental Health Secunda by 017 631?2506.

Related Articles

Back to top button