Local newsNews

Kok van formaat

Dié voorsitter van die Vroue Lanbou-unie laat niks in haar pad staan nie.

STANDERTON – ‘n Kok van formaat, so het me. Gerda Büter se dogter gedink wat haar vir die Kokkedoor-televisieprogram ingeskryf het.

As voorsitter van die Vroue Landbou-unie se Vaalrivier tak moet sy beslis ‘n uithaler bakster wees.

Om in te skryf moes ‘n profiel saamgestel word wat aan die beoordelaars gestuur is.

Op grond van die profiel is sekere voornemende Kokkedore genooi om in rondtes die beoordelaars te beïndruk.

Toe me. Büter die e-pos kry dat sy genooi word vir die uitdunne, was dit rep en roer in die Büter-huishouding.

So het sy weer deur die reëls en regulasies gegaan om te sien wat van haar verwag word.

In die eerste rondte moes iets voorgesit word wat reeds by die huis aanmekaar geslaan is.

So het me. Büter met haar miljoenêrsroomring die spreekwoordelike heuning om die beoordelaars se monde gesmeer en sy was na die tweede rondte deur.

Die  miljoenêrsroomring  wat me. Gerda Büter gemaak het om die Kokkedoor beoordelaars te beindruk.
Die miljoenêrsroomring wat me. Gerda Büter gemaak het om die Kokkedoor beoordelaars te beindruk.

Daar moes sy in die Kokkedoor-kombuis, wat in Bryanston in Johannesburg was vir die uitdunne, ‘n soufflé omelet met ‘n soet-suur vulsel maak.

Wat vir haar uitgestaan het in hierdie rondte is dat Hetta van Deventer-Tereblance van Kokkedoor-faam deurgaans met die deelnemers gepraat het, net soos op die televisie.

Diegene wat nie in die proses van die maak van die soufflé aan hulle disse geproe het nie, het nie na die volgende rondte deurgegaan nie.

“Dit is verstommend om by ‘n oppervlak nie langer as ‘n meter en ‘n half nie te werk, en alles wat ‘n mens nodig het, is daar,” het me. Büter gesê.

Sy het giggelend vertel hoe sy op die punt van die oppervlak iets uitgehaal het en die hele tyd was daar iets in haar pad, tot sy later besef het dit was die televisiekamera wat sy so rondskuif.

So was me. Büter deur na die derde rondte wat uit ‘n televisie-onderhoud bestaan het.

Die vraag wat die aanbieder aan haar gevra het was hoekom sy aan die gewilde televisiereeks deelneem en sy het geantwoord dat sy dit aan haar pa opdra wat vier dae voor dié uitdunrondtes, op die ouderdom van 90 jaar, dood is.

“Net daar moes verfilming gestaak word, want die aanbieder was in trane,” het me. Büter gesê.

Na hierdie rondte is me. Büter uitgeskakel en is deur die beoordelaar aangeraai om defnitief vir die volgende reeks in te skryf.

Sy het gesê dat dit’n belewenis was en dat sy vir 2015 se Kokkedoor gaan inskryf.

Met dié realiteitsprogram wat verlede jaar bekroon is as die gewildste werklikheidsreeks by die Tempo Toekenings, word daar na onthou-kokke gesoek wat saam met kinkel-kokke, ‘n kinkel aan onthou-kos gee.

Dit is ‘n 13-episode realiteitskookkompetisie met die doel om die beste kokke in Suid-Afrika op te spoor.

Die Kokkedoor-kookkompetisie sal in April op die kassie wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button