Editor's choiceNewsSchool sportSport

Erries looi Hoogies in FNB Classic

Die Erries en die Hoogies ding sedert 1918 teen mekaar mee.

Die Erries se eerste rugbyspan het Saterdag op hul tuisveld die FNB Classic-kragmeting teen hulle tradisionele teenstanders Hoogenhout van Bethal met 24 – 12 gewen.
Dit was hul eerste ligawedstryd in hul eeufeesjaar en die negende waarin hulle sedert 2007 teen die Hoogies te staan gekom het. Daarvan het hulle agt gewen.
Hoewel albei spanne Saterdag aanvallende rugby gespeel het, het die Erries in teenstelling met die Bethallers nie al hul geleenthede om punte aan te teken, benut nie. Hulle het gebiedsvoordeel geniet en moes ’n veel groter oorwinning behaal het. Die nodige afronding het egter ontbreek weens hanteerfoute en besit wat afgestaan is.
Die gevolg was dat Hoogenhout teen rustyd met 12 – 10 voorgeloop het nadat hulle ’n doel en ’n drie behaal het.
Ermelo se wakker agsteman, Pieter Bekker, het al sy span se punte, ’n drie wat hy verdoel het en ’n strafdoel, in die eerste helfte aangeteken. Ná rustyd toe die Erries meer gefokus was, het hy ook die drieë van die senter, JG Serfontein, en die plaasvervanger-flank, Jooste Nienaber, verdoel wat sy bydrae op 14 punte te staan gebring het.
Die Erries en die Hoogies ding sedert 1918 teen mekaar mee. Van die 134 eerstespanwedstyde waarvan ons die uitslae kon opspoor, het Ermelo 85 gewen terwyl 13 gelykop geëindig het.
Die beste wedstryd Saterdag was tussen die 0/16A-spanne wat die Erries met 48 – 24 gewen het.
Dié kragmeting het aanskoulike hardlooprugby en 12 drieë opgelewer waarvan Ermelo agt gedruk het.
Die Erries se tweede span en 0/15A’s het ook hul spiere gebult en onderskeidelik met 32 – 0 en 32 -21 koning gekraai, terwyl die Hoogies se 0/14A’s met 27 – 12 geseëvier het.
In die kragmeting tussen die 0/16B’s het Ermelo ’n oorwinning van 30 – 5 behaal. In die derdes, 0/15B’s en 0/14B’s se wedstryde was die Hoogies baas.
Die Erries speel môre (Saterdag) op hul tuisveld in hulle volgende ligakragmeting teen Standerton. (CK)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button