Local newsNews

Nog ’n digbundel uit Francis se inkpot gebore

“My kas is vol van ‘ander mense se skoene’ en ek trek elke dag iemand anders sin aan,” het me. Francis Grobler vertel.

BETHAL – “My kas is vol van ‘ander mense se skoene’ en ek trek elke dag iemand anders s’n aan,” het me. Francis Grobler vertel.

Sy skryf oor die stukkende goed in die lewe omdat sy graag deur haar skryfwerk mense wil aanmoedig om heel te word.

“Ek kan iemand anders se emosies of trauma ervaar en dit met ink vanuit my hand en denke op papier vaslê. Dit is absoluut ‘n gawe van God.”

Vanjaar stel sy haar vyfde digbundel, s’Thwathwa wat Zoeloe vir ryp of ys is, vry.

Dit handel oor die gebrokenheid van die wêreld omdat sy vir mense wil sê, ‘hier is die gebrokenheid, dit is hoe jy nou voel, maar daar kom weer lig’.

Haar eerste digbundel, Pyltjies in die sand, is reeds in 2007 vrygestel.

Sy is as Francis Steyn in 1970 op Standerton gebore.

Daardie jaar, op 6 Desember, haar geboortedag, het ‘n frats swartryp die Hoëveld getref.

Die Zoeloes het haar s’thwathwa genoem, juis omdat dié ryp, ‘n vreemde verskynsel was en al die gesaaides en belowende oeste vernietig het.

Een van die gedigte in haar bundel, ‘sy’t met die ryp gekom’, verwys ook na dié gebeure:

“die ryp was swart en swaar daai jaar
en ek weet nóú hoe was my naam
voor die verwarring
en voor die keiser geweet’t
hy’s kaal” – sy’t met die ryp gekom uit s’thwatha 2019.

Hoewel sy oor die seer, gebrokenheid van die wêreld en hoe dit die menswees beïnvloed geskryf het, het sy eers later besef dat sy eintlik oor hoop skryf.

“Ek is na ‘n natuurramp wat verwoesting gesaai het vernoem en het besluit om lewe terug in dié naam te skryf. Meeste van die gedigte in die nuwe bundel eindig met, en gee hoop.”

Sy verwys na haarself as ‘n vrygees woordkunstenaar en skryf steeds alles in kleinletters behalwe, wanneer sy na God verwys.

Dié digter se skryfkuns is nie net inspirerend nie, maar ook universeel.

Enigiemand kan met haar gedigte vereenselwig.

Dana Snyman het die volgende oor me. Grobler se digkuns gesê: “Francis is ‘n pelgrim wat haar woorde knaend in die rigting van die sterre laat dwaal, tog vind sy telkens geborgenheid en ‘n soort verlossing in die aardse. Sy laat jou wonder waar jou eie braambos brand.”

Haar doel met dié nuutste bundel is juis om ‘n mens twee maal te laat dink.

“Ons bestaan in ‘n stukkende wêreld vol enorme eise waar menslinge hulself dikwels ter dood lééf. Die menslike psige is vasgevang in die greep van ‘n skedel, wat meestal tussen die binnegoed van die kopgange van ‘n brein, en iewers naby die hart gaan delf vir antwoorde. Die ironie daarvan is dat die antwoorde meermale buite die skedel lê, in iets wat die mensdom allerhande name probeer gee.”

In haar gedigte poog sy enersyds om die skedels te kraak en die rou waarheid van menswees aan te spreek.

Haar bundel is reeds op Prima Skryfbehoeftes se rakke.

Jy kan ook vir haar ‘n e-pos na francis.grobler@telkomsa.net stuur indien jy ‘n bundel wil bestel.

Skryf in vir die kompetisie hier: 

https://www.citizen.co.za/ridge-times/144646/kompetisie-vind-jou-inspirasie-digkuns/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button