Local newsNews

Egpaar sal R10 000 betaal om hul mossie-kind terug te kry

Hulle het Sabi bykans drie jaar gelede as ’n piepklein voëltjie vir dood in die Laeveld opgetel

SECUNDA – Sabi is nie net enige mossie nie – hy is die Du Plessis-egpaar van Secunda se kind.

Daarom is hulle bereid om R10 000 op te dok as beloning vir enigeen wat vir Sabi aan hulle kan terug besorg.

Hulle het oorspronklik R5 000 as beloning uitgereik nadat Sabi op 3 Maart tydens ‘n inbraak by me. Christa du Plessis se ouerhuis in Vanderbijlpark gesteel is.

Die inbrekers het toegeslaan terwyl haar ma by die kerk was en het verskeie goed uit die huis gesteel – Sabi, sy hokkie en sy kos inkluis.

Die Du Plessis het hul mossie-kind in die sorg van me. Du Plessis se ma gelaat omdat hulle met vakansie in die Kruger Wildtuin was.

Sabi die mossie is deel van die Du Plessis-huishouding.

Hy het gereeld saam met hulle rondgereis, maar die wildtuin sou dit nie duld nie.

Hulle was platgeslaan toe hulle hoor dat Boetie – dit is die Du Plessis se troetelnaam vir Sabi – soek is.

‘n Koerantberig het daartoe gelei dat ‘n bejaarde vrou van Vanderbijlpark nóg R5 000 by die beloning gevoeg het.

“Die tannie bel my gereeld om te sê ons moet nie moed verloor nie. Sy bid steeds dat Sabi se magie vol is en dat hy weer by ons sal uitkom,” het me. Du Plessis vertel.

Dié groot bedrag het onlangs op sosiale media opslae gemaak en verskillende reaksies uitgelok.

Sommige mense het gesê hulle bid dat die voëltjie terugkom en ander het weer gereken hulle sal vir daai geld sommer ‘n hele paar mossies aan die Du Plessis oorhandig.

Sabi se beentjie was beseer toe die Du Plessis-gesin die voëltjie opgetel het. ’n Veearts het die been gespalk.

“Mense verstaan nie hoe kosbaar daardie klein mossie vir ons is nie,” het me. Du Plessis gesê.

Hulle het Sabi bykans drie jaar gelede as ‘n piepklein voëltjie vir dood in die Laeveld opgetel.

“Hy het skaars veertjies gehad en die miere het al op hom saamgedrom. Ons het nie eers geweet watter soort voëltjie hy was nie en moes gaan Google om dit te kon vasstel.”

Die Du Plessis-egpaar en hul kinders het die kuiken op botteltjies babakos en fyn biltong grootgemaak.

“Ons is al wat Sabi geken het, dus het hy gedink hy is ‘n mens.

“Hy is so skattig. Hy het gereeld saamgestap badkamer toe en dan op die rand van die bad gesit en kort-kort sy koppie onder die kraan se waterdruppels ingedruk wanneer dit badtyd was.”

Me. Du Plessis het gesê Sabi is kleiner as normaal en is baie mak en liefdevol.

Hy het sy eie bedjie gehad – ‘n kleinerige koelhouer uitgevoer met handdoekstof – wat langs me. Du Plessis se bed gestaan het.

Saans het sy hom in die bedjie toegevou en sy lyfie gevryf tot hy aan die slaap geraak het.

“Soggens sou hy tussen die handdoekvoue uitkruip en wagsit totdat een van ons beweeg het, dan het hy te heerlik begin gesels.”

Die gesin het al baie trane oor Sabi gestort en hul hoop om hom terug te vind, is aan die taan.

Hulle het al oproepe gekry van mense wat Sabi moontlik gewaar het, maar volgens me. Du Plessis het dit nie water gedra nie.

“Sy vlerkies was geknip en hy kan nie vlieg nie. Ek vermoed die mense wat hom geneem het, wil nie vorendag kom nie, want hulle is bang hulle word met die inbraak verbind.”

Sabi was nog ’n kuiken toe die Du Plessis-gesin hom gered het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button