Local newsNews

Dr. Pieter Groenewald sê Afrikaners moet nie in ’n staat van ontkenning leef nie

Oor onteiening van eiendom sonder vergoeding het dr. Groenewald gesê dat dit nie net op boere betrekking het nie.

SECUNDA – Elke stem vir ‘n ander party is ‘n stem teen die ANC.

Só het Dr Pieter Groenewald, nasionale leier van die Vryheidsfront Plus (VF+) kiesers by ‘n openbare vergadering op Secunda aangemoedig om op 8 Mei hul kruisie te gaan trek.

Dié vergadering is in die Anker-kerk op Secunda op 19 Maart deur sowat 60 siele bygewoon.

Dr Groenewald het kiesers gemaan om nie in getalle vas te kyk en moed te verloor nie.

“As die Voortrekkers in getalle vasgestaar het, was ons nie vandag hier nie,” het dr. Groenewald gesê.

Volgens hom kan ‘n stem vir ‘n kleiner party steeds ‘n verskil maak teen die magtige ANC danksy die land se proporsionele kiesstelsel, en hoewel die VF+ nie by die ANC sal kan oorneem nie, sal meer stemme vir die party beteken dat daar meer parliamentslede en langer spreukbeurte in die parliament kan wees.

Dr Groenewald het kiesers aangeraai om elke party se waardes na te gaan en ook wat hulle belowe, en dan dit te vergelyk met wat daardie betrokke party in praktyk toepas.

Hy het ook in die vergadering kwelpunte aangeraak soos die grondhervorming sonder vergoeding, rassisme en regstellende aksie.

“Daar is twee maniere waarop ‘n volk vernietig kan word – deur oorlog of deur die ontneming van ‘n volk se trots. Die Afrikaner het gewys hy kan oorlog oorleef, nou word ons van ons trots ontneem.

“Die ANC wil ons geskiedenis demoniseer en beweer al Suid-Afrika se probleme het saam met Jan van Riebeeck hier aangekom.

“Die ANC wil jou laat sleg voel omdat jy wit is.”

Dr. Groenewald is wit en Afrikaans en hy is trots daarop. Hy vra nie vir bevoorregting of voorkeurbehandeling nie, net gelyke regte.

“Tel jou kop op en hou op daarmee om heeltyd verskoning te vra. Ek verteenwoordig witmense in ons land soos die IVP Zoeloes verteenwoordig of die EFF swartmense verteenwoordig. Ek hoef nie te bewys dat ek nie ‘n rassis is nie. Ek mag sê die ANC is verkeerd as hulle alles op wit mense wil blameer.”

“Die staat dink hy moet ‘n werksverskaffer wees.” het dr Groenewald voortgegaan.

Volgens hom is Swart Ekonomiese Bemagtiging nie die oplossing nie.

“Dit verryk net die elite en doen niks vir die gewone mens nie. Regstellende aksie is net omgekeerde rassisme.

“Kennis en vaardighede verlaat die land. “Weens regstellende aksie het ons probleme in land en daarom gaan die ligte af.”

Oor onteiening van eiendom sonder vergoeding het dr. Groenewald gesê dat dit nie net op boere betrekking het nie.

“Artikel 25 in die Grondwet beskryf eiendom as meer as net grond – dit sluit alle eiendom soos roerende bates en selfs patente waarop kopiereg is, in.”

Hy het gesê landsburgers moet nie in ‘n staat van ontkenning leef nie.

“Daar is leiers wat sê onteiening sonder vergoeding moet gebeur maar ons kan daaroor onderhandel. Dít is net so goed iemand kom eis jou motor op en gee jou die opsie om te onderhandel of hy jou by jou huis moet gaan aflaai, en of jy ‘n vriend gaan skakel om jou te kom oplaai, want jou kar is jy steeds kwyt.”

Hy het bygevoeg dat hierdie ‘n teer plek is en dat ‘n Afrikaner se onderdentlikheid nie as swakheid misgis moet word nie.

Dr. Groenewald het die gehoor verseker dat daar steeds hoop is.

“Gaan stem. Slaan terug by die stembus.”

Hy het verduidelik as ‘n kieser wegbly op stemdag, is dit net so goed hulle stem vir die ANC.

“As Christene het ons altyd hoop. Ons mag nie passief wees nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button