Local newsNews

Vroue geniet Moedersdagtee met Gretha

Bekende spreker bemoedig vroue op Secunda tydens Moedersdagtee.

SECUNDA – Die bekende spreker Gretha Wiid het vroue Saterdag, 10 Mei tydens die Morning Glory-tak van die Suid-Afrikaanse Koekversierdersgilde se Moedersdagtee laat skater van die lag met haar skerp sin vir humor.

Die geleentheid is by die Hervormde Kerk Secunda-gemeente aangebied.

Me. Judy Wessels, voorsitter van die Morning Glory-tak, het vroue verwelkom en almal vir hul ondersteuning bedank.

Me. Sue Read, direkteur van die Suid-Afrikaanse Koekversierdersgilde, het vroue meer oor dié gilde ingelig.

Wiid het vroue ook aangemoedig om werk van hul huwelike te maak.

Die tema vir die oggend was ’n Vrou na God se Hart.

“If you are not gone yet, you are not done yet,” het Wiid gesê.

Sy het oor die waarde van ’n vrou gepraat en gesê iets in ’n huis is eers regtig weg as die vrou van die huis nie weet waar dit is nie.

Sy het vroue gevra watter soort vroue hulle is.

“Is jy die soort vrou wat altyd kla en met wie dit altyd sleg gaan?

“Of is jy die soort vrou wat innerlike vreugde het en gelukkig is?” het Wiid gevra.

Sy het die storms van die lewe met kookwater vergelyk en gesê dat almal êrens in hul lewens deur kookwater gaan.

“Sommige vroue is egter soos ’n wortel in kookwater wat sag word, sommiges is so hard en bitter soos ’n gekookte eier en sommiges is soos koffie wat die geur van die water verander.

“As jy soos koffie is, word jy só dat jy deur ander mense gebruik kan word en jy verander die kookwater.”

Sy het vroue aangemoedig om te vergewe.

“Die kriteria vir ware vergifnis is as jy al met oortuiging en blymoedigheid in jou hart vir daardie persoon kan bid.

“Een van die redes hoekom baie vroue nie blom nie, is omdat hulle nie met die verlede klaarmaak nie.

“Vergifnis verklaar nie dat die oortreder onskuldig is nie, dit verklaar dat die slagoffer vry is.

“Ons elkeen word soms moeg en elkeen kan kies om ’n verskil te maak.

“Hou op om jouself met ander te vergelyk.

“As jy jouself heeltyd met ander vergelyk en in hul skoene loop, sal jy nooit gelukkig wees nie.”

Sy het vroue ook aangeraai om nie voorhuwelikse seks te hê nie, ook nie vroue wat geskei is en weer in ’n verhouding is nie, en gesê: “If you compromise God’s Word, you compromise His blessings.”

“Sê vir die Here dankie vir dit in jou lewe waarvoor Hy nee gesê het, want as jy terugkyk, sal jy besef dit was vir jou eie beswil.

“Hy was ’n goeie Vader wat jou beskerm het,” het Wiid haar toespraak afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button